MOSSELBAAI NUUS - Die burgemeestersontbyt is op Woensdag, 11 Junie, by die Mosselbaai-gholfklub vir sakeleiers, mediaverteenwoordigers en ander belangstellendes aangebied.
As gevolg van omstandighede buite sy beheer kon die burgemeester, Dirk Kotzé, nie die ontbyt bywoon nie. Onderburgemeester Cliffie Bayman en die munisipale bestuurder, Colin Puren, het vir hom ingestaan.
Die gaste het ’n stewige ontbyt geniet, asook ’n pragtige uitsig oor die baan en die omliggende see.
Die spesiale gas vir hierdie ontbyt was adv. Gerrie Nel. Hy het oor sy rol binne AfriForum se privaat vervolgingseenheid gepraat.
Privaat vervolgingseenheid
Nel het in 2017 as staatsaanklaer bedank om AfriForum se privaat vervolgingseenheid te lei. Nel en sy span neem baie hoë-profiel-sake in Suid-Afrika aan, waarvan hy in ’n paar sukses behaal het.
Suid-Afrikaanse wetgewing maak privaat vervolging moontlik in gevalle waar die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) besluit om iemand wat van ’n oortreding verdink word, nie te vervolg nie.
Nel het ’n sombere prentjie geskets - hy het die gaste vertel van hoeveel sake in die Suid-Afrikaanse regstelsel ontslaan word, veral sake rondom politici en ander noemenswaardige figure.
Dikwels, sê Nel, word die politici wat korrupsie-aanklagtes in die gesig staar vir jare nadat hulle die eerste keer aangekla word nie vervolg nie.
Sy werk met AfriForum is daarop gemik om die land se regstelsel te verbeter deur sulke sake self aan te pak, in plaas van die NVG.
Opwinding op die gholfbaan
Nes die meeste van die gaste was Nel gretig om op die gholfbaan te kom.
Alhoewel hy taai in die hofsaal is, kan dieselfde nie op die gholfbaan gesê word nie. In ’n onderhoud met Mossel Bay Advertiser erken Nel dat hy mededingend kan raak, maar gholfspeel is hoe hy buite sy werk as aanklaer ontspan.
Die geleentheid is deel van ’n fondinsameling. Die geld wat van die ontbyt ingesamel word sal na die Burgemeestershulp- en Liefdadigheidsfonds gaan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’