MOSSELBAAI NUUS - Die Mossel Bay Advertiser het 'n vorige eienaar van die C-Queen opgespoor wat verlede week Dinsdag, 3 Oktober, by die Waterfront op Mosselbaai te water gelaat is vir haar gerestoureerde nooiensvaart oor die afgelope vier jaar deur die huidige eienaars, Cobus en Dina van der Bank.
Die tipe boot is deur Sachal & Stevens (Pty) LTD op Vredenburg aan die Weskus gebou en is 9,96m (30voet) lank.
Archie du Plessis, besigheidseienaar op Mosselbaai het in die jare 1994 of 1995 in Port Elizabeth die boot met die naam Fortuna, wat aan 'n Portugese eienaar behoort het, bekom. "Toe ek die boot gekoop het was dit 'n tjokka-boot met 'n blaasvrieskas, 'n Lister enjin en 'n kragopwekker," vertel Du Plessis.
Du Plessis het die boot ook self weer nuut gemaak en onder andere het hy die blaasvrieskas uitgehaal en 'n viskas ingebou. Hy onthou ook nog die stapelbeddens in die voorkant in die boeg van die boot.
Met sy nuwe lisensie het hy die boot Cowie gedoop. Die boot is toe ingespan as 'n vissersboot met bemanning wat in die Port Elizabeth en St Francisbaai-omgewing die see geoes het.
"Ek het Cowie toe later aan 'n man en sy seun, wat van Plettenbergbaai af gekom het, verkoop."
Daarna het 'n plaaslike besigheidsman die boot op 'n veiling gekoop en het dit het op Mosselbaai naby Die Punt gestaan. Du Plessis het die boot by die Punt gesien en herken aan die viskas wat hy destyds verander het.
Daarna het die Van der Bank's die boot bekom en het hulle die binnekant van die boot heeltemal oorgedoen voor dit weer water toe is. Die C-Queen staan tans in die hawe op Mosselbaai.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’