MOSSELBAAI NUUS - 'n Mens sou kon wonder hoe skakel die oorleef van 'n haai-aanval en die slaag van 'n uiters buitengewone hofgeding met mekaar, maar eintlik is die antwoord heel eenvoudig. Die een is so raar soos die ander.
Gideon Scheltema, oud-Mosselbaaier se naam het oor die jare byna legendariese afmetings aangeneem onder branderplankryers. Juis omdat hy in die jare sewentig, as jong student 'n haai-aanval by die Punt oorleef het.
Scheltema, 'n advokaat het boonop die eerste geslaagde privaat vervolging in die geskiedenis van Suid-Afrika, op sy kerfstok. Hieroor skryf hy in sy boeiende boek, Justice Delayed, wat vanjaar verskyn het en groot opslae maak.
Die boek handel oor die geskiedkundige privaat vervolgingsproses van Faizel Hendricks vir die moord op sy vriendin, Rochelle Naidoo.
Fotogalery: Gideon Scheltema - Justice Delayed
Hendricks het beweer dat Naidoo selfdood gepleeg het, deur 'n vuurwapen in haar mond te druk en haarself op 28 Junie 2005 in die paartjie se woonstel in Kaapstad te skiet. Haar familie het dit egter nooit aanvaar nie. Elf jaar later, is Hendricks 15 jaar tronk toe gestuur vir moord.
Ingegrafeer
Vanuit Delfino's Restaurant by die Punt gesels Scheltema met die Mossel Bay Advertiser tydens 'n onlangse besoek aan die dorp. Hy beduie links oor sy skouer presies waar die veel besproke haai-aanval plaasgevind het.
Dit was 30 Junie 1971.
Hy was nie van plan om daardie dag branders te ry nie, maar 'n vriend, Peter Shirley het hom oorreed. Met 'n gebreekte linkervoet is hy die branders in. Anders as vandag, was branderplankry nie algemeen in Mosselbaai beoefen nie, dus was dit net die twee van hulle in die Punt se deinings.
"Ek kan nog alles van daardie dag so helder onthou asof dit gister was. Dit was 'n pragtige wintersdag. Tot die water se temperatuur. Dis ingegrafeer in my geheue."
Scheltema vertel dat Shirley terwyl hulle in die branders was gesê het dat hy onveilig voel en terug aan wal wou gaan. Scheltema het in die branders agtergebly.
"Ek het oor my linkerskouer gekyk om te sien hoe die branders lyk toe ek skaars 10 m weg 'n reusevin sien." Hy het sekondes gehad om sy bene bo-op die bord te kry.
"Toe die brander lig, kon ek die haai se oë sien."
Scheltema vertel hoe die haai hom en sy branderplank "soos 'n toebroodjie" in sy bek gevou het. Hy het nie dadelik geweet waar hy gebyt is nie, maar het intense rugpyn ervaar.
Nou van sy bord af en onder water saam met die haai, was hy bewus van die bloed rondom hom. Die haai was so naby aan hom, dat hy daaraan kon raak. "Die haai se oë het my baie lank bygebly, daardie doodskyk."
Genadiglik het die haai instinktief vir Scheltema se branderplank gegaan en hy het op die rotse uitgespoel. 'n Visserman met die hulp van 'n plaaslike versekeringsagent het hom uit die water gehelp, pad toe gedra en 'n handdoek in die gat aan sy regterbeen gedruk.
"Daar was nog 'n grondpad om die Punt. Die eerste outjie wat by ons gestop het was nie 'n ou vir bloed nie en het boonop 'n nuwe motor gehad. Hy het een keer vinnig in my rigting gekyk, in sy motor gespring, en weggery." Hy onthou dat 'n "ou tannie" in haar Humber Super Snipe tot hulle redding gekom het.
"Die sogenaamde 'ou tannie', vind ek toe later van tyd uit, was die destydse stadsklerk Hoffie Hofmeyr se vrou en sy was eintlik toe maar net 38 jaar oud gewees."
Vrees
Die gat wat die haai in sy bord gebyt het, pas vandag nog om sy middel. Fisiek, was die herstelpad lank, maar die aanval het ook 'n emosionele letsel gelaat. Van rekonstruktiewe chirurgie en fisioterapie was daar nie sprake, berading nog minder.
"Ek het regtig vrees en angs ervaar. Ek was selfs kwaad dat sport my vir 'n lang tyd ontneem is ná die aanval." Scheltema sê dat hoewel hy al baie keer oor die aanval gepraat het, vir die eerste keer in sy boek Justice Delayed oor die emosionele kant daarvan uitgewei het.
Dit het lank geduur voor hy hom weer in die water begeef het. In die boek beskryf hy sy eerste dag terug in die water. "Ek moes myself oortuig dat die vrees wat ek ervaar het, slegs in my kop was. Wat was die kans dat ek ooit weer deur 'n haai aangeval sou word? Ek moes besluit oor hoe anders my lewe sou wees as ek sou toelaat dat hierdie vrees my ontneem van iets wat my baie vreugde verskaf."
Tot ongeveer tien jaar gelede, het hy nog steeds aktief branderplank gery.
Van sy vriende het gesê hy was op die verkeerde plek, op die verkeerde tyd. "Ek stem nie saam nie. Ek kyk met trots na die letsel aan my been. Ek skryf ook in die boek, 'death stared me in the eye and life, smiled at me'. Danksy die aanval, koester ek elke oomblik van die lewe."
Geskiedkundig
Sy intensie was nooit om 'n boek te skryf nie. Toe die geskiedkundige skuldigbevinding en vonnis in die Rochelle Naidoo-saak elf jaar na haar dood volg, was hy "oorval met dankbaarheid" dat hy deel kon wees van so 'n reis. "Alhoewel privaat vervolgings al meer as 100 jaar op Suid-Afrikaanse wetboeke is, was 'n privaat vervolging vir moord nog nooit suksesvol in Suid-Afrika gewees nie. Wêreldwyd selfs, word dit nie sommer aangepak nie."
Scheltema meen dat hy, ten spyte van dié suksesvolle saak, nie ten gunste is van privaat vervolgings nie. Volgens hom kan 'n privaat vervolging moontlik as onkonstitusioneel beskou word.
"Ons hele regstelsel is daarop gerig om aan die beskuldigde 'n onpartydige, objektiewe verhoor te gee. In hierdie geval, werk dit glad nie so nie." In die Rochelle Naidoo-saak, was daar egter geen ander opsie nie.
Scheltema sê dat die boek beslis nie net die regsproses dokumenteer nie, dit gaan ook oor die geestelike en emosionele heling van 'n stukkende gesin, veral Rochelle se ma, Sara, wat om die privaat vervolging aansoek gedoen het.
"Sara en ek het baie raakpunte gehad in terme van ons emosionele belewenisse. Ek met my haai-aanval en sy met haar dogter se dood. Ek skryf hieroor. Daar is humor en menslikheid in die boek." Hy vertel hoe Rochelle Naidoo se familie as inspirasie vir baie mense gedien het en watter diep waters hulle addisioneel tot die uitgerekte regsgeding, deur is. Wat Sara betref, sê hy, het sy wel herstel.
"Die boek het closure vir die gesin gebring. Rochelle se pa Yunus, het gesê Rochelle is wel weg, maar die boek het oorgebly."
Koffiewinkels en dansklasse
Scheltema meen, om die boek te skryf, was iets wat hy móés doen. Maar dis ook nie 'n kwessie dat hy by 'n lessenaar gaan sit en skryf het nie.
"Die boek is in coffee shops en tussen dansklasse deur geskryf." Scheltema is 'n kranige danser en lê hom veral op die Argentynse tango toe.
Ten spyte van 'n moontlike televisie-onderhoud met Carte Blanche oor Justice Delayed en dat ander ook toustaan om bekendstellings te hou, is publisiteit vir Scheltema 'n bysaak. "Die boek besit mý nie, ék besit die boek. Ek is besig, ek werk nog en het ook 'n ander lewe. Die boek gaan nie oornag verdwyn nie." Scheltema hoop dat die boek as 'n inspirasie vir baie mense sal dien, veral in die hoogs stresvolle tye waarin ons onsself tans bevind.
Nie net is Scheltema sinoniem met die oorleef van 'n haai-aanval en die geskiedkundige Naidoo-saak nie, maar hy was ook as aanklaer betrokke in opspraakwekkende sake soos dié van André Stander, die polisiekaptein wat 'n bankrower geword het en die huursoldaat, kol "Mad" Mike Hoare wat vroeër vanjaar oorlede is.
Gedagtig aan laasgenoemde, is die logiese vraag, kom daar dalk nog 'n boek? Hy dink nie so nie, sê Scheltema en glimlag, tipies aan 'n gedugte teenstander in die hof wat nie al sy kaarte op die tafel sit nie.
Justice Delayed is plaaslik beskikbaar by The Merchant Coffee Shop.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'