BLOG - Daar is min plekke op aarde waar daar meer tong in die kies gepraat word van die kerk as in Suid-Afrika. Voor ek gestenig word vir die growwe veralgemening, wees nou eerlik, toe? Hoeveel boeke, televisiedramas, verhoogstukke en grappies het nie êrens ‘n dominee, ouderling, diaken, pastoor apostel of ‘n kerktannie wat nie as die een of ander karikatuur geskets word nie?
Ons put genot daaruit om met ons vroomheid die draak te steek. Kortom, ons is geestig oor ons geestelikheid.
Toe kerke met die aankondiging van die nasionale ramptoestand eers net in groepe van 50 byeen mag gekom het en daarna heeltemal moes sluit vanweë die nasionale inperking, was dit gou duidelik presies hoe sterk Suid-Afrikaners oor kerkwees voel. Só sterk dat Cyril uiteindelik moes bes gee en die kerke weer moes oopmaak. Genadiglik het baie die verantwoordelikheidsin gehad om nie summier die tradisionele groot Sondagbyeenkomste te hervat nie. Spoedig is ander maniere ingespan om steeds saam te kan aanbid.
My ma vertel altyd watter klein derduiwel ek as kleuter in die kerk was. In die ou dae was kerk ‘n somber en vervelige besigheid vir ‘n voorskoolse kind. Ek het al met die aflegging van die geloofsbelydenis begin kriewel. My ma was gelukkig nie ‘n knyper nie. Sy was ‘n kýker. Ná die tweede of derde kwaai kyk het ek besef dinge gaan nou vir my begin warm raak. Dan het ek ongemerk onder gebed as almal se oë toe was, na die rand van die kerkbank begin opskuif.
As Moedertjie soos die gebed eindig voel-voel na my, dan trek ek al by die agterbank verby. Gewoonlik het my rondlopery tot groot verleentheid van my ouers, met ‘n geneurie gepaardgegaan, want dit was nou nie Psalms en Gesange nie. ABBA se 1976-treffer Mamma Mia was meer my styl gewees.
Só het ek en verskillende dominees mekaar darem oorleef. In die algemeen onthou ek die dominees van my jeug as gawe ooms met welluidende stemme en herderlike oë. Behalwe ds Erlank.
Hy kon die akteur Frederik Burgers, die komieklike vent wat saam met Al Debbo flieks gemaak het, se dubbelganger gewees het. Maar daar was een wesenlike verskil. ‘n Algehele gebrek aan ‘n sin vir humor. Daar was geen glimlag in sy swart kraalogies nie en nóg minder om sy afwaarts-neigende mondhoeke.
As hy Sondae uit die konsistorie verskyn, het die ganse gemeente grafstil geword. Hy het ‘n soort dodemars met stokstywe bene en staccato-treetjies tot by die kansel gestap. Voor hy die eerste trappie betree het hy gestop, die houtreling vasgegryp dat sy kneukels wit sit en ‘n vermanende kyk na die gemeente geblits.
Hy het gewoonlik beide kante van die kansel vasgegryp dat sy arms bak staan. Met die toga aan het hy soos ‘n swart kraai gelyk wat net wil pik, bespiedende kraalogies en al. En dan begin hy preek dat die sweet later teen sy slape afstroom en sy keelspek soos ‘n kalkoen se belle tril.
Ek onthou die tye dat hy so hard op die kansel met sy vuis geslaan het, dat die kanselbybel vir ‘n paar oomblikke in die lug gehang het. Dis een van dié dae dat ek my ma gevra het hoekom raas die oom dan so met ons. Hy het ‘n vermoë gehad om jou jou sondes te laat bely wat jy nog nie eens beplan het om te pleeg nie.
Baie van ons onthou sekerlik ‘n kwaai imposante predikant uit die verlede, maar feit bly staan dat kerk eweneens vir ons ‘n veilige plek bly. Hoe kan ‘n mens dan te midde van ‘n pandemie wat ons fondamente so kom skud het, verlief neem met booswigte wat helderoordag in ‘n Pretoriase kerk instorm en mense se selfone begin gryp? Hoe maak ons vrede met die beeld van ‘n gemeentelid wat verstar met ‘n pistool in sy hand staan terwyl die rower wat hy platgeskiet het, dood by sy voete lê?
My oupa was ‘n groot kerkman. Die soort wat in droogtetye, sonder slag of stoot, sy enigste oesgeldjies vir Bybelverspreiding sou gee. Hy wou eintlik ‘n predikant gewees het en het toe maar oral in die Albertinia-distrik op plase bedien en Pinkster gehou.
Saam met sy vriend Oom Seuntjie sit die twee een aand by ‘n biduur. Oom Seuntjie was bekend vir sy siniese, droë sin vir humor. Dis bitter droog en die boere kry só swaar, hulle vat aan die snykant van die mes. Stemme bewe soos die gebede opklink. Toe Oom Bêrend se bidbeurt kom, gaan die emosie in snelrat.
Oupa het altyd vertel dat ‘n ghwarriebos tog so ‘n warme vuur maak. Hy het gesê dáárdie kole, gaan amper nooit dood nie.
Gou begin die trane loop soos Oom Bêrend bid. Die ander boere skuif ongemaklik rond. Oom Seuntjie is alte krapperig. ‘n Grensery is darem een te veel. Dis toe dat Oom Seuntjie so droogweg onder gebed prewel. "Wel Gert, ek sal jou sê waar Bêrend is. Hý is in die hel. Hý sit op ‘n ghwarriekool.”
Ek mis kwaai dominees en lawwe pastore. Ek verlang na huilende bidders en klinkende kollekte.
Ek is versigtig vir ‘n virus wat in aanraking en broederskap kan uitbroei.
Ek verag die gedagte dat gewapende boewe soos wolwe onder skape maai.
Onder mý gloei ook ‘n ghwarriekool.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'