MOSSELBAAI NUUS - Die ma's van twee aangehoudenes wat in die Mosselbaai korrektiewe jeugsentrum vermoor is sê hulle seuns het 'n tweede kans verdien en moes nie in die tronk gesterf het nie.
Bradley Teyise (20) se ma Eileen Teyise (39) woon op Plettenbergbaai en het die hofsaak van die 11 beskuldigdes wat glo tydens 'n bendeverwante aanval haar seun vermoor het,bygewoon.
Eileen sê Bradley het gevangenisstraf uitgedien nadat hy skuldig bevind is op 'n aanklag van roof.
"Wat met my seun gebeur het is nie reg nie. Hy het verdien om weer sy lewe te kon regruk nadat hy sy tronkstraf uitgedien het en hy moes in die tronk beskerm kon word."
Oor bendelid, Donovan May se skulderkenning op die moord van haar seun, sê Eileen hoewel sy tevrede is met die vonnis wat aan May opgelê is, sal niks haar seun terugbring nie.
"Tog voel ek geregtigheid het geseëvier. Ek kan nou met my lewe aangaan.
"My seun se siel kan nou in vrede rus."
Eileen sê sy voel jammer vir May se ouers.
"Maar die pyn wat hulle nou voel kan nie vergelyk word met hoe ek gevoel het toe ek moes hoor my seun is vermoor nie.
"Net soos ek daarmee moes vrede maak, sal hulle nou ook met hulle seun se vonnis vrede moet maak."
Gladys Finiza (51), ma van Abongile Finiza (24) wat ook ten tye van die aanval in die tronk vermoor is, woon op Mosselbaai.
Bradley Teyise
"Abongile sou nie vir nog lank in die tronk moes bly nie. Hy het sy vonnis amper uitgedien.
"Hy was in die tronk vir roof. "Abongile se dogtertjie is nou twee jaar en twee maande oud en word groot sonder 'n pa. Sy was maar 'n maand oud toe hy vermoor is.
"Ek voel sleg oor die wyse waarop my kind vermoor is en niks sal hom kan terugbring nie."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'