MOSSELBAAI NUUS - Ingrid Keyser (gr. 5) bespeel ’n hele klompie instrumente en kon al sing nog voor sy gepraat het, sê haar ma, Stefanie.
Haar ontvangs van die Anna du Toit Bravura-trofee vir mees veelsydige deelnemer (tjello, sang en viool) by die George-musiekvereniging is dus geen verrassing nie.
Ingrid speel al viool sedert die ouderdom van vier, tjello sedert ses en ontvang formele sangopleiding vandat sy agt is.
Haar heel eerste ‘sangoptrede’, vertel haar ma, was in ’n kleuterskoolkonsert waar sy “Twinkle, Twinkle, Little Star” gesing het toe sy maar drie was.
Verder speel die jongeling ook die ukulele, klavier en ’n bietjie tromme, maar neem sy nie daarin lesse nie. Sy het wel twee jaar gelede ook met perkussie begin en het haar eerste xilofooneksamen met lof geslaag (93%) - dis egter net vir die pret, al neem sy formele lesse daarin.
Uit al dié instumente is haar stem haar gunsteling. “Tot groot irritasie van haar [drie ouer] boeties sing sy van die oggend tot die aand!” lag Stefanie. “Sy is mal daaroor en dink haar lewe is ’n musiekblyspel!”
Wat die fisiese instrumente betref, verkies sy die tjello. “Sy het ’n baie natuurlike aanvoeling daarvoor.”
Die liefde vir musiek spruit maar uit die musikale huishouding waarin sy gebore is.
“Sy is in ’n huis gebore waar almal musiek maak en baie lief vir musiek is. Al haar boeties speel ook instrumente en die spul maak graag saam musiek. So musiek is maar deel van haar DNS, haar wese, haar asemhaal.”
Stefanie sê hulle besef Ingrid se talente, die geleenthede wat oor haar pad kom en haar musiekonderwysers is ’n groot voorreg en genadegawe van bo, en hulle is daarvoor diep dankbaar.
“Solank dit vir haar lekker is en bly maak om musiek te maak, sal ons haar daarin ondersteun.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’