MOSSELBAAI NUUS - Die bekende Michael Alexander se stem het op die ouderdom van 58 jaar stil geraak.
Hy was ‘n legende in die plaaslike musiek industrie. Reeds op ‘n jeugdige ouderdom was sy sangtalent in aanvraag. Sy weergawe van die Rock Koning, Elvis Presley, se Crying in the Chapel op die verhoog gedurende die middel 1980’s, het van hom ‘n baie gewilde musikant gemaak onder plaaslike musiek aanhangers.
Met die verloop van tyd het sy gewildheid toegeneem onder oud en jonk. In 1994 word die bekende Ocean Breeze orkes gestig met voormalige musikante van onder andere Bay Jazz, Down Under en Octopus. Saam met hierdie gesoute musikante was Michael ook ‘n stigterslid van Ocean Breeze. Die destydse leraar (nou biskop) Allen Kannemeyer van die plaaslike Anglikaanse Kerk was die breinkind agter die totstandkoming van dié orkes.
Terwyl Michael lid was van Ocean Breeze was, het hy by tye in sy private hoedanigheid opgetree by ander funksies. Later sou hy ook onder leiding van Donny Domingo (klawerbord) en saam met die legendariese kitaarspeler David Daniels, by spesiale funksies optree.
Ocean Breeze was ook die eerste plaaslike orkes wat by die Bravo Lounge by die Garden Route Casino opgetree het, met Michael as die hoofsanger. Ander orkeste sou ook later hier optree. Een van dié plaaslike orkeste is Gminor saam met wie Michael somtyds opgetree het as ‘n gaskunstenaar. Tot onlangs het hy ook saam met die befaamde musikant Jeremy Petersen opgetree. Hierdie talentvolle musikant se stem het stil geraak, maar sy nalatenskap sal voortleef in baie se harte.
Michael word Saterdag, 16 Maart, om 10:00 uit die Nativity Kerk, Mosselbaai, begrawe.
Michael Alexander (voor met die mikrofoon) saam met lede van die Ocean Breeze orkes in aksie op die verhoog by die Bravo Lounge.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’