MOSSELBAAI NUUS - Voor Martin Smith se drie termyne as die Mosselbaai-gholfklub se president was daar in die 1960’s laas ’n president wat só lank gedien het.
Maar ná ses jaar in dié posisie het Smith besluit dit is nou weer tyd vir hom om net ’n normale lid van die klub te wees. Sakkie Morrison neem as nuutverkose president oor.
Smith het op 25 September sy laaste jaarverslag aangebied en op 3 Oktober het van die klublede, vriende en personeel bymekaargekom toe hy amptelik uit sy amp as president uittree.
Die algemene bestuurder, Graeme Viljoen, asook die klubkaptein, Michal Rehr, het uitgebrei oor Smith se bydrae oor die afgelope ses jaar en die rol wat hy in hul eie lewens gespeel het, asook met waar die klub vandag staan.
Smith het in ’n tyd toe daar ernstige stuwelinge tussen die klub en die huiseienaarsvereniging (HEV) was, eers op die HEV gedien en toe president geword. In hierdie tyd kon hy sleutelbydrae tot ’n beter verhouding tussen dié twee entiteite lewer.
Viljoen, wat self al ’n geruime tyd by die klub is, sê vanaf sy eerste ontmoeting met Smith kon hy sien dié is ’n man wat dinge gedoen kry. “Jou geskiedenis sal vir altyd bly.”
Hy reken tussen hom en Smith wou hulle altyd die beste vir die klub en sy mense hê - iets wat hulle goed laat saamwerk het. Viljoen het ook Smith se vrou, Marie, vir haar jare se opoffering en betrokkenheid bedank.
Rehr het gesê hy wil nie soseer uitbrei oor wat ‘oom Martin’ gedoen het nie, maar wou eerder vir hom dankie sê. “Ons het van dag een af geklik.”
Hy sê hy het baie dinge by Smith geleer, en Smith was altyd iemand wat hy kon skakel vir raad of as hy ’n klankbord nodig gehad het. Die oproepe was nie noodwendig vinnig of kort nie, het hy gespot, maar altyd van waarde.
Burgemeester Dirk Kotzé het ook van die geleentheid gebruik gemaak om Smith vir sy rol in die strategiese vennootskappe met sy kantoor te bedank, onder meer die burgemeestersgholfdae en -ontbyte.
Voormalige president Martin Smith en burgemeester Dirk Kotzé.
Smith het gesê om die afskeidsaand met die klub te kon meemaak was vir hom ’n besonderse voorreg.
“Ek is jammer ek kon nie [al die klublede] genooi het nie, want dit is soos ek voel. Elkeen van hulle het my gedra en my ondersteun, en ek is dankbaar teenoor elkeen.”
Volgens die presidentsverslag vir vanjaar het die ledetal op 927 (sonder personeel) gestaan.
Smith het die klub se huidige en voormalige raadslede vir hul ondersteuning gedurende sy termyne bedank, so ook die klub se bestuur vir hulle dag-tot-dag-toewyding en diens aan die klub.
Hy het ook sy vrou, wat altyd daar was deur die nagte se wakker lê, bedank. “Ek sou dit nie alles kon doen en reggekry het as dit nie vir jou was nie.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’