MOSSELBAAI NUUS - Dis 'n belofte wat net mooi twee jaar gelede by Mosselbaai Gholfklub gemaak is, en vandag, 20 Desember, is die dag wat dit nagekom word.
Roux Steenkamp, 'n 31-jarige boer van Carnarvon in die Noord-Kaap, het twee jaar gelede 'n ongeluk op sy plaas gehad waarin hy deur 'n hoogspanningsdraad geskok is - 22 000 volt is deur sy liggaam.
Roux het sy regterarm verloor en ná talle operasies, omdraai by die dood, byna twee maande in die hospitaal én weer leer loop, was hy vasberade om weer sy passie vir gholf te laat voortleef.
Nou wat het dit met 'n belofte by die gholfklub op Mosselbáái te doen?
'n Inwoner van Mosselbaai (en kranige gholfspeler), Wiekus Pretorius, het 'n baie hegte vriendskap met Roux.
Hulle het in 2021, 'n jaar voor die ongeluk, saam gholf gespeel, maar kon dit natuurlik nie weer in 2022 doen nie. Roux was egter 'n week ná hy uit die hospitaal ontslaan is, saam met Pretorius (oom Wiekus, soos hy hom noem) op die gholfbaan, al kon hy net in die karretjie saam ry.
Roux het daardie dag 'n belofte aan oom Wiekus gemaak dat hulle binnekort 'n potjie gholf saam sal speel. Dít het hy dan ook as motivering gebruik om beter te raak in gholf en ook só te oefen dat wanneer die geleentheid daar is, hy uiteindelik by die belofte sal kan uitkom.
En oefen het hy geóéfen - intussen het hy aan verskeie toernooie deelgeneem vir gestremdes en het só goed presteer dat hy tans eerste op die wêreldranglys is in sy kategorie.
Hy sê hy het wel gholf gespeel voor die ongeluk, "maar ek was eintlik 'n baie meer gemotiveerde gholfer ná my ongeluk".
"Dit is persone in my lewe wat bygedra het tot my sukses, soos byvoorbeeld oom Wiekus, wat baie opbouend was en emosionele ondersteuning gebied het. Dis hoekom dit vir my so belangrik is dat ons uiteindelik ons belofte wat ons aan mekaar gemaak het nakom."
Enja, Roux en Rubert Steenkamp. In Rubert se hand is sonarfoto's van die toekomstige baba-Steenkamp.
Oom Wiekus sê dit is "vir ons albei 'n groot emosionele dag en 'n lieflike storie van dankbaarheid".
"Roux is baie naby aan my hart, veral toe hy my twee jaar terug gesê het ons gaan weer saam gholf... en hier is dit nou!"
Roux sê daar is byna ontelbare wonderwerke wat in sy en sy gesin se lewens plaasgevind het sedert die ongeluk en hulle het net 'n ongelooflike dankbaarheid teenoor die Hemelse Vader daarvoor.
Die gholfafspraak van vandag is ook vir hom meer as net 'n belofte. Dit is hy wat terug keer na oom Wiekus, ná hy hierdie hele traumatiese ervaring agter hom gesit het, om weer saam te speel soos in die verlede.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’