MOSSELBAAI NUUS - As klein dogtertjie was skool-skool haar gunstelingspeletjie, soveel so dat sy haar volwasse self in 2019 tot binne-in die hoof se kantoor gespeel het!
Marlize Hoek (39) het in 2019 as die waarnemende hoof by Mosselbaai E.K. Primêr begin en is in 2023 permanent in dié pos aangestel.
Sy is nou in haar sewende jaar by die skool en beskryf dit as ’n plek wat intussen vir haar ’n tweede huis geword het.
Hoek is in Beaufort-Wes gebore en het in 1991 van daar na Wellington toe verhuis. Dié dorp was sommer ’n alles-in-een vir haar: sy het haar laer- en hoërskoolloopbane hier voltooi, haar man ontmoet en met hom begin uitgaan, én direk na universiteit haar onderwysloopbaan by Newton Primêr begin, waar sy ook later departementshoof was.
“Toe my man [Anton] die pos as adjunkhoof by Laerskool Hartenbos aanvaar het, het ek die pos by Mosselbaai E.K. Primêr gekry,” vertel sy.
“Om hier te werk is ’n voorreg. Die see bring rustigheid, maar dit is die mense wat dit besonders maak - almal is vriendelik en hulpvaardig. Die kinders vul elke dag met vreugde en energie, en die ouers se betrokkenheid en ondersteuning laat ’n mens regtig deel van ’n hegte familie voel.”
Gunstelinge
As ’n gr. 3-juffrou is haar gunstelingdeel van die onderwys daardie aha!-oomblik wanneer ’n kind se oë oopgaan sodra ’n konsep skielik sin maak.
“Dit is hoekom ek dit doen: nie net kennis oordra nie, maar om te weet ek maak ’n verskil.”
Hoek gedurende die skool se diplomaplegtigheid in 2024. Foto: Mosselbaai E.K. Primêr/Facebook
Haar ma was ook ’n onderwyser, en van Hoek se dogtertjie-onthoudae af wou sy nét skoolgee. “Ek het ure lank deur my ma se kinders se boeke wat sy huis toe gebring het, geblaai. Ek het selfs ’n ou swartbord gehad waarop ek saam met die bure se kinders skool-skool gespeel het, met my as die streng juffrou.
“Sekerlik het my ma my geïnspireer om onderwys as loopbaan te kies; haar passie vir leer het my eie roeping gewek.”
Sy sê haar grootste uitdaging as hoof is om altyd die regte balans tussen die administrasie en die mense te vind.
“Daar is baie verantwoordelikhede wat agter die skerms gebeur, maar uiteindelik gaan dit oor die kinders, die personeel en die ouers. Om elkeen se belange raak te sien, regverdig te wees en steeds die skool se visie en missie vorentoe te dra vra baie, maar dit is ook wat die werk so betekenisvol maak.”
Wysheid en lag
En die kinderelement in hierdie balans sorg ongetwyfeld vir sy eie betekenisvolle oomblikke, met geen skaarste aan humor (én wysheid) nie!
Hoek se eerste dag by E.K. Primêr bewys dit alte goed.
“My eerste dag as hoof was ek vol afwagting. Toe kom ’n klein seuntjie - met daardie onskuldige nuuskierigheid wat slegs kinders het - reguit na my toe. Hy kyk my van kop tot tone op en af, frons effens, en sê dan met die grootste oortuiging: ‘Meneer is dan ’n juffrou! ’n Hoof is dan ’n meneer!’”
Sy kon natuurlik nie help om te lag nie en sê dit was die perfekte herinnering dat rolle soms in die kinders se wêreld net so eenvoudig is soos wat jy lyk.
“Maar dit het my ook geleer: selfvertroue kom nie van perfekte etikette nie, maar van hoe jy reageer op die onverwagse. Daardie seuntjie se woorde het my herinner dat ek dalk nie die ‘meneer’ is wat hy verwag het nie, maar ek is steeds die hoof - en dis genoeg.”
Vandag noem Hoek en dié jong man haar nog ‘juf. Hoof’. “En dit bly my gunstelingteken van ware krag.”
Dis ’n gebedsaak
Haar ander teken, of eerder bron, van krag kom van haar geloof af.
Gebed, sê sy, is een ding waarsonder ’n skool nie sal werk nie. “Veral in ’n Christelike konteks. Hoekom? Omdat ’n skool nie net oor strukture, programme of selfs dissipline gaan nie; dit gaan oor die hart van mense vorm.
“Gebed is die anker wat alles verbind - dit bring wysheid vir besluite, krag vir uitdagings en eenheid onder personeel, ouers en leerders. Sonder dit word die resep bloot ’n mengsel van menslike pogings - goed, maar nie volgehou nie.”
Marlize Hoek, haar man, Anton, oudste seun, A.J., en jongste seun, Francois.
Buite skool spandeer juf. Hoof graag tyd saam met haar gesin; die beste manier om te ontspan en herinneringe te skep, reken sy. Dit behels enigiets van stap op die strand en swem tot braai en saam met goeie vriende kuier.
En dan geniet sy ook die kombuisavontuur van nuwe resepte probeer. Kosmaak is iets wat sy en Anton gereeld saam doen.
“Boonop vind ek groot vreugde in kreatiewe dinge: ek verf en teken graag, wat my help om my gedagtes te rus en my verbeelding vry te laat loop.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’