HARTENBOS NUUS - Die VLV Hartenbos het besluit om 2026 nes talle van Mosselbaai se jonges af te skop - in die ‘skoolbanke’.
Die skooljaar vir leerders het amptelik op Woensdag 14 Januarie begin, en op daardie noot nooi die VLV enige belangstellendes uit om sy eerste byeenkoms vir die jaar by te woon.
Hier gee dié tak jou die geleentheid om saam met die VLV-lede terug te gaan skool toe.
“Ons gaan ’n kamma skool, skoolhoof en eerste skooldag beleef. Dit gaan opvoedkundig, interessant en vol humor wees.”
Wat die kurrikulum vir die dag behels, is egter ’n verrassing.
Die temakleur vir kleredag is blou en/of wit, en ’n strik of so in die hare. Belangstellendes word ook gevra om enige soewenierartikels van húl skooldae soos boeke, klere, dasse, rapporte, balkies of enigiets anders interessant vir ’n uitstalling saam te bring.
Die skooldag begin om 09:00 vir 09:30 op Dinsdag 27 Januarie by die Lede in Christus Kerk, op die hoek van Katjiepiering- en Jakarandastraat, Hartenbos Heuwels. Daar sal ook geleentheid wees om by die VLV se klein markie ’n draai te maak. Neem kontant saam om die vereniging hiermee te ondersteun.
Indien jy besluit om die geleentheid by te woon, neem ook sommer ’n vriendin of twee saam. Skakel die voorsitter, Rolien Smit, by 084 621 2838 vir verdere navrae of indien jy belangstel om by die VLV Hartenbos aan te sluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’