Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Op William Sam, 'n voormalige lid van die Suid-Afrikaanse Kaapse Korps, het sy loopbaan as bruin soldaat, 'n onuitwisbare indruk gemaak. En dit is nie noodwendig 'n positiewe een nie.
Sam, 'n gebore en getoë Mosselbaaier en bekende in militêre veteraankringe, het sy wedervaringe, heelwat daarvan skokkend, te boek gestel in My Loopbaan As Bruin Soldaat.
"Ek het aan die einde van my loopbaan as soldaat in 1988, na my grensdiens in die Bosoorlog so drie bladsytjies op 'n skryfblok neergeskryf. Vir jare het ek nie weer daarna gekyk nie." In die jare na sy diensplig vertel Sam, het hy tydens kuiergeleenthede met vriende dikwels oor sy militêre dae staaltjies vertel. Sy vrou van 29 jaar, ook 'n Mosselbaaier met wie hy tydens sy grensdiens in Namibië, destyds Suid-Wes Afrika uitgegaan het, het hom aangemoedig om iets met die stories te doen.
Toe hy in 2016 op die nasionale databasis vir militêre veterane registreer, het Sam uiteindelik voordele bekom wat hom in staat gestel het om hulp te kry vir die post traumatiese stres waaraan hy eintlik jare reeds vanweë sy diensplig gely het. "Ek het oor die jare heen flashbacks gekry en dergerlike belewenisse wat my genoodsaak het om 'n sielkudige te sien. Ek gaan steeds gereeld vir terapie," vertel hy onomwonde.
Op verdere aanbeveling van sy sielkundige, het hy agt maande gelede aan sy boek begin skryf. "Van die eerste traumatiese ervarings was reeds gedurende my basiese opleiding," vertel hy.
Sam meen ook, dat sy boek geskiedkundig is, aangesien daar sover bekend, nie werklik 'n boek oor die Suid-Afrikaanse militêre geskiedenis is, waarin die rol en aandeel van bruin soldate opgeneem is nie. "Ek skryf ook oor die mensevergrype wat tydens my grensdiens plaasgevind het teenoor die lede van die plaaslike bevolking. Ekself is daaraan skuldig. Baie van hierdie vergrype word verswyg."
Sam sê dat sy boek reeds oraloor opslae gemaak het, nog voor die amptelike bekendstelling op 1 September. Soveelso dat hy die drukoplaag moes vergroot.
Die boekbekendstelling vind om 15:00 plaas by Dudley se saal, Mooneystraat, Civic Park. Slegs 'n aantal gaste is genooi.
Laat die boek sy gemoed ligter voel? "Daardie gebeure is vasgebeitel in my geheue. Dis soos jou skaduwee. As jy buk, buk jou skaduwee. As jy spring, spring jou skaduwee ook. Dit volg jou, jou skaduwee gaan oral met jou saam," sê hy voor sy stem wegraak en hy sy nat oë met sy sakdoek droogvee.
Kontak William Sam (082 387 6340).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'