LEEFSTYL NUUS - Ek sou nie my lewe sonder my grootouers kon indink nie. Wie ek vandag is, is gedeeltelik te danke aan hulle.
My ouma en oupa het net buite Pretoria, op ’n plot gebly. Ek het vakansies ten minste twee weke daar gekuier.
My oupa het my en my ma by die bushalte vanaf Ellisras ingewag, my ma gegroet en dan het ek en hy na die klein versameling van familie wat op my oupa-hulle se perseel gebly het, gereis.
Daar was ten minste drie gesinne, met ’n totaal van ongeveer 14 inwoners op die plot. Elke Sondag was die ark oop. My ouma het ten minste vyf borde kos ekstra voorberei – ingeval daar iemand vir ete kom kuier.
My ouma het met haar voorskoot om die lyf, op haar gekose stoel gesit en al die kos regverdig in die 20 plus borde wat daar gestaan het, verdeel. Daar was ten minste twee vleise, sous, rys, aartappels, boontjies en pampoen.
Dit is asof sy geweet het daar gaan gaste kom, want daar het nooit kos oorgebly nie en daar was genoeg voorberei om elke honger magie te stil. My ouma was nie die normale prentjie van die klein, sagte ouma wat troos en pleisters plak nie, maar ’n statige, ferm vrou wat geen onmin verduur het nie en met regverdigheid gestraf het.
Sy het my voor haar afsterwe geleer dat daar by háár huis, soos by die Here, altyd plek sal wees vir die mense wat honger en dors is – al is haar geld min.
Vandag is ek bevoorreg om by Helpende Hand navorsing te doen om die weerloses - die kinders, mense met gestremdhede en die bejaardes - se behoeftes te bepaal.
My laaste verslag vir die jaar was die van tehuise en hulle inwoners, om spesifiek die behoefte aan ondersteuning en dienste te bepaal en vas te stel in watter van hierdie behoeftes Helpende Hand en die gemeenskap kan voorsien.
Daar het 50 tehuise aan die opname deelgeneem en 450 bejaarde inwoners het die vraelyste voltooi.
Solidariteit Helpende Hand het 'n verskeidenheid van nasionale projekte wat poog om die swaarkry van behoeftige mense te verlig. Dié projekte sluit bejaarde-projekte in wat daarop fokus om persone ouer as 60 jaar te ondersteun, te bederf en te vereer.
Helpende Hand poog ook om die Afrikaner-volk te leer om weer vir bejaardes om te gee, sodat elkeen verantwoordelikheid kan neem vir die bejaardes in hulle lewens en in hulle gemeenskap.
Helpende Hand se bejaarde-projekte wil 'n einde maak aan die eensaamheid en armoede waarin baie van ons land se bejaardes leef.
Die 2030-agenda en die doelwitte vir volhoubare ontwikkeling (SDG's) erken dat ontwikkeling slegs haalbaar sal wees as dit alle ouderdomme insluit. Die bemagtiging van ouer persone in alle dimensies van ontwikkeling, insluitend die bevordering van hul aktiewe deelname aan die sosiale, ekonomiese en politieke lewe, is een manier om hulle inklusiwiteit te verseker en ongelykhede te verminder.
Alhoewel armoede onder bejaardes nie noodwendig voorkom of verbreek kan word nie, kan die geestelike - en emosionele armoede van bejaardes beslis aangespreek word. Dit is my wens dat ons by die 2030-agenda al in 2020 kan aansluit en verseker dat ons bejaardes ook vry, veilig en voorspoedig in Suid-Afrika lewe. Om die navorsingsverslag te lees, klik hier.
Hoe lyk tehuise en bejaardes se konteks:
- Byna al die tehuise (92%) bestaan al meer as 30 jaar. ’n Driekwart van die tehuise het aangedui dat hulle ’n waglys het vir inwoners wat in die tehuis wil kom woon.
- 2 188 voltydse personeellede se salarisse word deur die tehuise betaal, wat 3 559 bejaarde inwoners moet versorg. Dit is ’n gemiddeld van 44 personeellede per tehuis en gemiddeld 10 vrywilligers wat hulle dienste, hulp en ondersteuning vir die tehuis gratis aanbied.
- Die grootste groep van die tehuis se inwoners is meestal vroulik, met die grootste persentasie ouderdom (54%) tussen 80 - 89 jaar, waarvan 12% ouer as 90 jaar oud is. Dit is noemenswaardig om aan te dui dat twee van die respondente vanjaar 100 jaar oud geword het en drie bejaardes in 2020 hulle 100ste verjaarsdag vier.
- Ongeveer 40% van die bejaardes is ten volle afhanklik, benodig voltydse sorg of is met ’n sekere mediese toestand gediagnoseer. Hierdie toestand is onder andere: ’n liggaamlike gestremdheid, blind- of doofheid, of lewe met ’n psigiese steuring, soos depressie en angs. ’n Kleiner persentasie van die tehuise se inwoners het Alzheimer’s of Dementia.
- Die gemiddelde tariewe vir verblyf is R6 619 vir ’n enkelkamer, R8 461 vir ’n dubbelkamer en R7 591 vir die versorgingseenheid. Byna 40% van die bejaardes ontvang ’n staat subsidie. Die bydrae strek vanaf R984 - R3 541 per inwoner per maand. Ongeveer die helfte van die inwoners ontvang ’n SASSA-toelaag, ongeveer R1 800, wat hulle verblyf moet betaal en maak nie voorsiening vir die volle verblyfskoste. Dan is uitgawes soos kruideniersware en mediese onkoste nog nie eers ter sprake nie. Dit laat ons bejaardes in ons samelewing nog meer kwesbaar.
- Byna die helfte van die bejaardes (47%) het geen toegang tot ’n mediese fonds nie en moet op die staat se mediese versorging staatmaak.
- Die meeste van die bejaardes (83%) het kinders, waarvan die helfte van die bejaardes se kinders ook finansieel na hulle omsien. Byna 40% van die bejaardes se kinders kom haal hulle nie vir uitstappies nie. Slegs 34% van die bejaardes sien hulle kinders weekliks en ’n baie klein persentasie van die bejaardes (6%) is bevoorreg om daagliks ’n besoek vanaf ’n geliefde te geniet. Verder ontvang 20-30% van die bejaardes maandeliks of jaarliks ’n besoek vanaf hulle geliefdes. Dit is dan met groot hartseer om te verneem dat ongeveer 40 bejaardes se familielede hulle nooit kom besoek nie. Ongeveer 30 bejaardes het aangedui dat hulle geen ondersteuningsnetwerk het nie. Hierdie terugvoer is die bewys van emosionele armoede wat ons MOET aanspreek.
Lees die bejaarde tehuis verslag 2019.
Só kan ons help:
- Die grootste behoefte aan dienste wat die tehuise nie kan bekostig nie, is instandhoudingspersoneel (91%), fisio- en arbeidsterapie (90%), beradings- en maatskaplike dienste (53%) en spraakterapeute (43%). Hierdie dienste word by minder as 10% van tehuise aangetref en die sukses en versorging van bejaardes is afhanklik van hierdie besonderse dienste, kennis en vaardighede.
- Al die tehuise bied ’n verskeidenheid van aktiwiteite en uitstappies vir die bejaardes aan. Die grootste behoefte aan materiaal vir aktiwiteite wat die tehuise aangedui het, is wol, breinaalde en bordspeletjies (ongeveer 80-85%). Ongeveer 50% van die tehuise benodig inkleurboeke en -potlode, balle, legkaarte, boeke met grootdruk-skrif, vroetel kussings, toerusting vir kunsaktiwiteite, babapoppe en speelgoed.
- Die produkte wat tehuise verlang is vleisprodukte, groente en vrugte (ongeveer 80%), asook LED-ligte, kruideniersware, beddegoed en matrasse (ongeveer 70%).
- Die grootste behoeftes vir bejaardes is onder andere: toiletware (76%), brille (50%), gehoorapparate en doeke (30%) of griepinspuitings teen die wintersmaande se kieme. Ongeveer 50 bejaardes het aangedui dat hulle ’n behoefte het aan ’n maandelikse voetsorg-behandeling.
- Die grootste behoefte aan aktiwiteite wat deur die bejaardes aangedui is, is die behoefte aan uitstappies en geselskap.
- Tina Walker het gesê: “Om vir iemand te sorg wat eens vir ons gesorg het, is een van die grootste voorregte”. Mag ons as bevoorregtes wat by ons vorige generasie geleer het, hulle saam versorg, want eendag is dit ons beurt.
Ek sluit af:
“Moenie spyt wees dat u oud word nie, dit is 'n voorreg wat VAN baie ONTNEEM WORD.” Onbekend
Solidariteit Helpende Hand nooi u uit om saam met ons hierdie tehuise en bejaardes se behoeftes aan te spreek. Skakel 012 111 8360 of besoek Helpende Hand se webwerf vir die inligting van jou naaste Helpende Hand-tak.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'