Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Meer as 120 motorfietsryers het op Saterdag, 11 Junie aan 'n petisie onder leiding van die Ulysses-motorfietsklub en Mosselbaaier, Peggy Roux by die Punt op Mosselbaai deelgeneem.
'n Petisie met meer as 1 300 handtekeninge is aan die burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé oorhandig.
Die petisie volg na 'n ongeluk op Louis Fourieweg waartydens 'n leerder van Hoërskool Punt, Nicci da Silva (18) op 4 Mei dood is toe sy met haar motorfiets teen haar broer se motorfiets voor die ingang na die Mosselbaai-landdroshof gebots het.
Die petisie het geëis dat die ingang wat na die hofgebou lei, gesluit word en dat daar 'n alternatiewe roete verskaf word.
FOTOGALERY: Motorfietsklub oorhandig 'n petisie teen Louis Fourieweg
Die Mosselbaai-munisipaliteit het op Dinsdag, 14 Junie 'n persverklaring uitgereik waarin bevestig word dat die huidige toegangsroete na die landdroshof op Maandag, 20 Junie vir verkeer gesluit gaan word.
Kotzé sê ondanks herhaalde versoeke om die bestaande toegang op die pad te sluit kon die munisipaliteit nog nie formele goedkeuring daarvoor bekom nie.
Die munisipaliteit het dus besluit om die pad waar dit munispale grond kruis te sluit. "Worsboomstraat suid van die Heiderand Mall is reeds in 2019 verleng om aan te sluit by die westekant van die begraafplaas. Hierdie opgradering is juis gedoen om 'n alternatiewe roete na die hofkompleks te skep."
Nicci se ma, Elzaan sê Saterdag was 'n ongelooflike dag. "Die burgemeester was baie vriendelik en die gemeenskap van Mosselbaai en die motorfietsgemeenskap was ondersteunend."
Elzaan sê dit was ook 'n groot stap vir die Da Silva-gesin omdat hulle almal op hulle eie motorfietse aan die geleentheid deelgeneem het. "Selfs my ma was deel van die geleentheid en het saam met my op my motorfiets gery." Sy sê dit gaan onder die omstandighede goed met die gesin.
"Ons funksioneer. Ons raak gewoond aan ons nuwe realiteit."
* Sien die berig oor die sluiting van die pad hiernaas.
Verwante artikel: Access road to magistrate's court will be closed
Motorfietsryers van onder meer die Ulysses-motorfietsklub het aan die petisie-oorhandiging deelgeneem. Die geleentheid is by die Punt op Mosselbaai gehou.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'