MOSSELBAAI NUUS - Vir ‘n ouma van Danabaai is Mandeladag ‘n besonderse dag. Nie net omdat haar kleinseun vandag sy eerste verjaarsdag sal vier nie, maar omdat sy boonop die voorreg gehad het om dié ikoon tydens die amptelike opening van ‘n nuwe brug by die Beitbrug-grenspos in 1995 af te neem.
Frieda van der Walt, ‘n fotograaf het 16 jaar op Musina gewoon. Toe oud-president Nelson Mandela en sy eweknie van Zimbabwe, wyle Robert Mugade op 24 November 1995 die nuwe brug open, het doeane- en aksynspersoneel Frieda gevra om as hulle amptelike fotograaf op te tree.
Die ooreenkoms was egter dat sy al haar films aan doeane en aksyns sou verkoop. Min sou sy kon dink dat haar kleinseun, Dian jare later sy verjaarsdag met die Vader van die nasie, Madiba sou deel.
“Daardie tyd het ek nog 'n filmkamera gehad en die doeanepersoneel het my negatiewe ook gekoop, so ek het geen bewys dat ek hom afgeneem het nie.”
Frieda vertel dat sy amper in groot moeilikheid was toe sy een van haar foto’s neem.
“Ek het ‘n foto geneem waar hy op die verhoog voor ‘n klomp gaste 'n toespraak maak. Toe kom daar een van sy wagte en wou my kamera vat. Ek mag glo nie ‘n foto geneem het terwyl hy ‘n toespraak doen nie. Die rede is dat as hy ‘n toespraak hou en die flitse gaan af, verblind dit hom. Ek het dit nie geweet nie.”
Frieda van der Walt en haar kleinseun.
Hierna, vertel Frieda, is hulle na ‘n 'n privaat tent, waar sy saam met die joernaliste was wat met Mandela 'n onderhoud gevoer het terwyl sy die foto’s kon moes neem.
Haar ervaring van Nelson Mandela was dat hy ‘n mensemens was. “Alhoewel hy wagte rondom hom gehad het, het hy nog steeds uitgereik en met jou gesels en altyd ‘n glimlag op sy gesig gehad. Met die private onderhoud in die tent, was hy só vriendelik. Hy het met ons gesels asof ons jarelange vriende is. Natuurlik in Afrikaans en Engels.
"Hy het my hand geskud en selfs met my het hy in Afrikaans gesels al was ek net die fotograaf. Ek sal dit nooit vergeet nie.”
Wat wyle Robert Mugabe betref, was hy volgens Frieda maar stug. “Hy het die heeltyd wagte om hom gehad. Ons kon nie naby hom kom nie.”
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'