MOSSELBAAI NUUS - 'n Negentienjarige man het laat Donderdagaand, 15 Desember by Suiderkruis, Groot-Brakrivier verdrink. Die voorval het na 19:00 plaasgevind.
Volgens sers Lauriane Botha, kommunikasiebeampte by die Groot-Brakrivier polisiestasie het hy saam met familie langs die rivier gestap.
Hy het toe in die water gegaan en blykbaar in 'n gat getrap en onder die water verdwyn. Die jong man en sy familie is van Graaff Reinet afkomstig.
Die NSRI het hul St Blaize-reddingsboot uitgestuur en die polisie, ambulansdienste en Mosselbaai se brand- en reddingsdienste is dadelik na die toneel. Die man is deur vakansiegangers wat naby geswem het, uit die water gehaal waarna die NSRI-bemanning kardiopulmonêre resussitasie (KPR) toegepas het. Hy is egter later op die toneel deur 'n medikus van By Grace ambulansdiens dood verklaar.
Die Grootbrak-polisie het 'n dossier vir 'n geregtelike doodsondersoek geopen.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'