MOSSELBAAI NUUS - Wil jy deel wees van die vreugde en hoop wat by ’n ouma of oupa gekweek kan word?
Met die Ouma en Oupa Kersprojek NPC kry inwoners en belangstellendes van die Mosselbaai-gemeenskap die geleentheid om deel van hierdie Kersvreugde te wees.
Dié projek kom vanjaar vir die tweede keer Mosselbaai toe.
Kortliks werk dit soos volg: Daar word na ’n tehuis vir bejaardes gegaan en elke ouma en oupa word genooi om ’n wenslysie vir Kersfees in te vul. Dit kan enige item wees - van seep en lekkers tot selfs pantoffels. Die waarde van ’n geskenkboks beloop ongeveer R250.
Die wenslysie word dan elektronies vanaf die koördineerder na die skenker gestuur. ’n Skenker kan enige ander bederfitems by die bestaande versoeke voeg.
Michélle van Wyk, oorspronklik van Ermelo in Mpumalanga, is vanjaar weer Mosselbaai se koördineerder. Haar doelwit is om plaaslike tehuise in Mosselbaai se oumas en oupas heerlik te bederf.
As ’n wegspringpunt in Mosselbaai is ACVV Kenani en Benevolent Park hierdie jaar deel van hul projek, sê Van Wyk. Die gedagte is om vir 190 oumas en oupas ’n geskenkboks te gee. Die geskenkpakkies sal dan tydens ’n spesiale geleentheid (vroeg in Desember) oorhandig word.
Enige persoon of instansie wat betrokke wil wees, kan vir Van Wyk by 079 843 5771 skakel of ’n e-pos na mswanepoelcat@gmail.com stuur.
Skenkers kan ook die vorm by hierdie skakel invul: https://forms.office.com/r/0evPjfHmDC
Die Kersprojek is in 2018 in Vanderbijlpark gestig en het landswyd uitgebrei. Dit het begin as ’n eenvoudige idee om die oumas en oupas met ’n spesiale geskenkie gedurende die Kerstyd te bederf.
“Die belangstelling van skenkers was so groot dat die projek van daardie jaar af ’n jaarlikse instelling op hulle kalenders geword het. Wat aanvanklik net ’n idee was, het intussen van krag tot krag gegaan,” sê die organiseerders.
Volgens hulle is daar in 2018 sowat 1 700 geskenke in vier dorpe ingesamel. Die koördineerders voer die projek nou reeds in 20 dorpe regoor Suid-Afrika uit.
Vir meer inligting oor die projek, besoek gerus https://oumaoupa.co.za/.