Gallery Update
MOSSELBAAI NUUS - 'n Vierjarige dogtertjie van Mosselbaai soek glo pal na haar ma nadat sy gesien het hoe haar pa, Simon Jacobs (25) na bewering op Vrydag, 28 Mei die 20-jarige Yolin Kannemeyer doodslaan.
Yolin se liggaam is eers 'n dag na die wrede aanranding op 'n bank in die huis wat sy met Jacobs deel, gevind.
Haar kind en haar niggie het glo die hele nag op die bed duskant die bank langs Yolin se lewelose liggaam spandeer omdat Jacobs hulle met 'n mes aangehou het. Hy het glo geweier dat hulle die woning in St Blaizestraat verlaat, ten spyte daarvan dat Yolin vermoedelik reeds dood was.
Yolin se niggie is tydens die voorval, toe sy wou vlug, met 'n mes in haar hand gesteek.
Volgens bronne was dit Jacobs self wat 'n ambulans op Saterdag, 29 Mei ontbied het.
"Daddy het my ma doodgemaak."
Dít is wat die kleuter volgens Yolin se ma, Yolandi Kannemeyer (40) gedurig ná die moord sê. Die dogtertjie is nou in haar sorg.
Beskermingsbevel
Die paartjie is reeds agt jaar in 'n verhouding. Yolin het volgens haar familie vantevore 'n beskermingsbevel teen Jacobs gekry, maar dit weer teruggetrek.
Intussen het Jacobs op Dinsdag, 1 Junie in die Mosselbaai-landdroshof op 'n aanklag van moord verskyn. Hy bly in aanhouding en die saak is uitgestel na 17 Junie vir 'n formele borgaansoek.
Foto's: Gesinsgeweld eis jong ma se lewe
Die Mossel Bay Advertiser het verneem dat Jacobs ook 'n aanklag van poging tot moord teen hom het. Dit is 'n afsonderlike saak en het nie betrekking op Yolin nie.
Volgens die stasiebevelvoerder van die Da Gamaskop-polisiestasie, kol Khutala Masakala is daar gedurig klagtes van gesinsgeweld wat by die stasie aanhangig gemaak word.
"Geweld by die huis raak almal. Elke ras, elke inkomstegroep. As polisielede wil ons graag die gemeenskap beskerm, maar dikwels sodra ons die verdagtes in hegtenis neem, trek die slagoffers die saak terug. Ons kan nie mense forseer om sake aanhangig te maak nie. Dit is egter 'n feit dat die geweld nie sal stop nie. Ons raai vroue en mans wat in 'n patroon van gesinsgeweld vasgevang is sterk aan om 'n beskermingsbevel te kry."
Volgens Masakala is dit 'n verdere probleem in die gemeenskap dat bure nie by sulke voorvalle betrokke wil raak nie.
"Ons moet almal uit een mond praat. Die kerk, ons leiers, die polisie, ons skole en daardie boodskap moet wees dat gesinsgeweld nie geduld sal word nie. Inwoners moet weet dat die polisie hier is om hulle te beskerm."
Yolin Kannemeyer
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'