MOSSELBAAI NUUS - Medelye stroom op sosiale media in vir Yolin Kannemeyer (20) wat die afgelope naweek oorlede is nadat sy vermoedelik deur haar kêrel doodgeslaan is.
Volgens die Da Gamaskop-polisie se kommunikasiebeampte, kapt Wollie Fourie is ‘n ambulans op Saterdag, 29 Mei om ongeveer 15:10 na ‘n woning op Mosselbaai in St Blaizestraat, Uitbreiding 8 ontbied.
Yolin is op die toneel met veelvuldige kopbeserings aangetref. Sy was reeds dood.
Fourie sê ‘n voorlopige ondersoek dui daarop dat Yolin en haar niggie sedert Vrydagaand, 28 Mei deur Yolin se kêrel in die huis aangehou is. Yolin se niggie is onder meer met ‘n mes in haar hand gesteek maar kon Saterdag daarin slaag om te vlug en die polisie van die voorval in kennis te stel.
Die ondersoek dui daarop dat Yolin reeds op Vrydag, tussen 18:00 en 19:00 na bewering deur haar kêrel aangerand is.
Die verdagte is in tussen in hegtenis geneem en bly in aanhouding. Hy sal op Dinsdag, 1 Junie in die Mosselbaai-landdroshof verskyn op ‘n aanklag van moord.
Nog aanklagte sal na verwagting by die klagstaat gevoeg word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'