Update
MOSSELBAAI NUUS - Linton Standfort (13) wat op Saterdag, 19 Maart om ongeveer 15:00 by De Bakke-strand op Mosselbaai verdrink het, was sy pleegma se hart se punt.
Só het Beaulah Simons (55) die afgelope week aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Linton was in haar sorg sedert hy twee jaar oud was. Simons was sy kleuterskoolhoof en het haar oor hom ontferm nadat maatskaplike werkers hom uit sy pleegouers se sorg verwyder het.
Linton het verlede Saterdag saam met sy broer, Quinton (17) en Simons se 75-jarige ma, asook ander familielede op die strand by De Bakke gekuier om Simons se onlangse verjaarsdag te vier.
Simons sê sy was ten tye van die voorval by 'n winkel op Mosselbaai om nog vleis en lekkergoed vir die partytjie te koop.
"My ma was op die strand ten tye van sy verdrinking en sy en Quinton is geweldig getraumatiseerd."
Seestroom
'n Voorlopige ondersoek dui daarop dat Quinton, Linton en Simons se kleinseun in die water was toe 'n stroom Linton vermoedelik ingetrek het.
Quinton het sy broer probeer red en het Linton op 'n stadium vasgehou en saam met hom probeer uitswem, maar die stroom het Linton dieper die see ingetrek.
Quinton kon daarin slaag om uit te swem en hulp te ontbied.
Personeel van die NSRI het Linton uit die water op 'n reddingsboot gelaai en kardiopulmonêre resussitasie op hom toegepas, maar hy is later dood verklaar.
Linton was 'n graad 8-leerder van Hoërskool Sao Bras.
Simons sê Linton was 'n liefdevolle mens en het haar gereeld met tuinwerk gehelp.
Sy sê: "Hy was my kraaloogkind, my hart se punt. Hy was my wekker in die oggend en ek was die middelpunt van sy lewe. Dit is vir my baie swaar."
Intussen het die skool op Woensdag, 23 Maart 'n roudiens vir Linton gehou. Twee sielkundiges is ook na die skool ontbied om leerders en ook klasmaats van Linton te beraad.
Die familie was teen die ter perse gaan nog besig om begrafnisreëlings te tref.
Volgens Simons beplan hulle om Linton op 2 April op Mosselbaai te begrawe.
'n Roudiens is op Woensdag, 23 Maart vir Linton Standfort by Hoërskool Sao Bras gehou. Linton se nabye gesin staan hier saam met Linton se klasonderwyser, mnr Rudi Hendricks en sy graad 8 voog, mev Lindle Bruintjies.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'