RUBRIEK - Iemand wat baie meer kundig as ek oor die kompleksiteit van die menslike psige is, het my op 'n keer 'n uiteensetting oor die waarde van rituele gegee.
Die verduideliking was veral met betrekking tot wanneer die lewe 'n paar albasters onder jou voete uitkeer.
"Rituele help jou om regop te bly en balans te hou as jy wankelrig voel. Dit skep betekenis en betekenis vorm 'n ankerpunt."
Soos ek dit verstaan, hoef 'n ritueel nie noodwendig 'n diepgaande handeling te wees nie. Dit kan 'n gewoonte wees, 'n voorkeur, selfs 'n aanwendsel of 'n geit. As ek so luister met 'n ritueel-ingestelde oor, het kos en aanverwante goeters heelwat met rituele te make.
Een van my snoepery-rituele, is om skons te maak. Dit gaan oor die makery. Geskoei op my ouma se resep, het die einste skons al tot kwaaivriendskap gelei, want daar is nie 'n resep nie. Wel daar is, maar as dit kom by die deel daarvan, is hierdie ritueel só diep gewortel dat dit nie net sommer vir neerskryf is nie. Êrens, vermoed ek, bly daardie knypie "magic" in die slag wat die bakker aan ontvangkant aan jou bona fides laat twyfel.
'n Kritiese gedeelte van die ritueel is egter waarmee die skon geëet word. Die puristiese Britse gebruik is om "clotted cream" daarby te geniet. Die maak hiervan is 'n tydsame ritueel insigself wat tot 48uur kan duur.
Ek is tevrede met 'n groenvy op 'n stapeltjie botter. Toe 'n besonderse groot ghoen ondervoet my verlede week in die gees op die naat van my rug laat beland, weet ek – dis skontyd.
Ouma se skons het werktuiglik, soos dit met 'n goedgeoefende ritueel behoort te wees, gestalte gekry. En toe loop haal ek 'n fles groenvye van my spesiale spensrakkie vir lekkernye af – 'n fles wat ek al sedert 2020 bewaar. Libby se groenvye.
Libby se groenvye is weergaloos en glo my, ek kén groenvye. Soveel respek het ek vir die kuns daarvan om dit in te lê, dat ekself nog nooit my hand aan hierdie ritueel wou slaan nie. Libby was 'n meester.
Nadat sy my die eerste keer 'n fles in die hand gestop het oor 'n guns wat ek haar gedoen het, het ek met toewyding na geleenthede gesoek om vir haar 'n klip uit die pad te rol – nét om daardie belofte te hoor: "Ek bring vir jou 'n fles groenvye." Dan het haar neutbruin oë skrefies getrek soos sy glimlag.
Toe ek die fles voor my neersit, moes ek gaan sit om dit oop te draai want die oomblik was te groot. Ek het eers die hoeveelheid mosgroenvye getel voor ek plegtig een uitgehaal het. Met die eerste proesel het my oë getraan.
Die keer nie soseer van die lekkerte nie, maar omdat die ritueel 'n brug tussen die tydelike en ewige geskep het.
Toe ek die laaste vyestropie onfatsoenlik met my wysvinger uit my bordjie skraap, is die wankel uit my wese. En Libby, mag die lewe waar jy nou is so soet wees soos elke kriesel van jou laaste groenvye op my tong.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’