MOSSELBAAI NUUS - Dit blyk dat ouers wat afsprake vir hulle kinders op Mosselbaai vir leerling-bestuurderslisensies wil maak, geduld aan die dag sal moet lê.
Verskeie inwoners het aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat hulle eers geholpe kan raak met 'n afspraak vir die skryf van 'n leerlinglisensie vyf of ses maande ná hulle begin navraag doen.
'n Gefrustreerde ouer sê: "Indien my kind nie die leerlinglisensie kry nie, moet ek weer 'n afspraak maak en dus vir nog 'n paar maande wag."
Nog 'n ouer sê hulle het verlede jaar Oktober 'n afspraak gemaak en eers plek gekry in Maart vanjaar.
Verskeie ouers het intussen aangedui dat hulle genoodsaak word om hulle kinders na buurdorpe te neem vir die skryf van leerlinglisensies.
Die presiese rede vir die waglys is nie tans bekend nie.
Die Mosselbaai-munisipaliteit sê die direktoraat van gemeenskapsveiligheid is bewus daarvan dat die vraag na leerling- en bestuurslisensietoetse 'n noodsaaklike diensvereiste is.
"As gevolg van die aanvraag werk die direktoraat aan 'n plan wat daarop gemik sal wees om die frustrasie, wat die gemeenskap ervaar, te verlig."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’