Update
MOSSELBAAI NUUS - Vir iemand wat kwalik vingertjies het, is Leah Rose van Staden bitterlik vernuftig met 'n pen en 'n notaboekie.
Geensins inkennig nie, en is vrygewig met haar drukkies.
Leah Rose is met fisieke gestremdhede gebore vanweë amniotiese band-sindroom. Haar regterbeentjie het byvoor-beeld nie ontwikkel nie en 'n gedeelte daarvan moes rondom haar eerste verjaarsdag verlede jaar geamputeer word.
Die Mossel Bay Advertiser het by Leah Rose en haar ma, Lenor gaan kuier nadat 'n video op sosiale media verskyn het waar dié klein patroon met haar loopraam laat wiel in die erf van die huis in Asla Park waar hulle onlangs ingetrek het.
Voorheen, het hulle in die Birkenhead-woonstelle op die derde vloer gewoon.
Beperkte spasie en toegang tot 'n oop ruimte, het dit moeilik gemaak vir Leah Rose om vrylik te beweeg en haar oefeninge te doen.
Toe 'n weldoener wat reeds maande lank 'n pad met dié gesinnetjie stap, Michelle Saayman haar ou huis in Asla Park aanbied, het die broodnodige skuif plaasgevind.
"Ons is net meer as 'n week hier. Leah Rose het dadelik toe sy kon met haar prostese en loopraam in die erf begin rondstap. Dís toe ek die video neem," vertel Lenor.
Sien 'n video hier.
Verjaarsdag
Leah Rose word Sondag twee jaar oud en daar word partytjie gehou. Dit sal haar eerste verjaarsdagpartytjie wees, omdat die chirurgie verlede jaar enige vieringe onmoontlik gemaak het.
Dis eintlik meer 'n dankseggingsdag as 'n verjaarsdagpartytjie.
"Ons gaan eers kerk toe. Dis 'n móét. Dan wil ons vir so 50 kinders 'n ietsie te ete uitdeel. Hier is groot behoefte in ons area," berig Lenor. Dis 'n groot dag vir haar, bo en behalwe die verjaarsdag, want sy staan haar eerste radio-onderhoud oor Leah Rose toe.
Sy is 'n stil mens wat haar gang gaan.
'n Aanlyn Christelike-radiostasie het haar genader om 5 Junie te gesels, min wetend dat dit Leah Rose se verjaarsdag is. Met dié toeval in gedagte, het Lenor nie verdere oorreding benodig nie.
Die afgelope twee jaar was nie maklik nie, maar Lenor sê steeds sy soek nie simpatie nie. Ook nie vir Leah Rose nie.
"Ek wil nie hê mense moet ons jammer kry nie.
Vir my, as 'n voorheen baie selfstandige, sterk mens, is dit baie moeilik om die skenkings en hulp te aanvaar, maar ek besef dis Leah se blessings, nie myne nie. En daarom mag ek dit nie van haar weerhou deur my eie gevoelens nie."
Trust
Lenor het vroeg na Leah Rose se geboorte met die oog op haar dogter se toekoms, aan die opstel van trustfonds begin werk. Haar plan is so te sê in plek.
Vanweë Leah Rose se mediese behoeftes, chirurgie en die eise wat dit op Lenor se tyd stel, is sy tans werkloos.
"Dis swaar om te vra, tans voel my lewe tans 'n bietjie soos 'n pity party."
Sy sien uit om weer te werk, maar tans het Leah Rose haar nog te nodig.
Lenor is intens dankbaar teenoor die gemeenskap en goeie vriende vir hulle ondersteuning. Haar familie is almal in Kaapstad, maar diegene op Mosselbaai wat haar hande sterk, meen sy, is al soos familie.
* Indien enigiemand wil kontak maak met of uitreik na Lenor en Leah Rose, stuur e-pos na cornelle@groupeditors.co.za of skakel die Mossel Bay Advertiser (044 690 7156).
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'