MOSSELBAAI NUUS - Leah-Rose van Staden is op 5 Junie 2020 gebore. Met geboorte was haar naestring twee maal om haar nek gedraai en sy het nie asemgehaal nie.
Haar ma, Lenor moes haar egter voorberei op nog skokkende nuus oor haar pasgebore babadogter.
Die kanale wat die amniotiese vloeistof binne die baarmoeder bevat, het om haar liggaampie gedraai en om haar regterbeentjie gebind. Dit het veroorsaak dat sy met slegs 'n linkerbeentjie gebore is. Haar handjies is ook geaffekteer en was by geboorte toegevou in vuisies. Op twee weke het sy self die linkerhandjie oopgemaak.
Dokters het haar ouers daarop voorberei dat sy 'n hele paar operasies sal moet ondergaan om haar lewenskwaliteit te verbeter.
In Junie 2021 het sy die eerste operasie aan haar been en voet ondergaan. Die mediese span was egter van mening dat dit beter sou wees om te amputeer sodat sy gemakliker 'n prostese kan ontvang. Haar linkervoet is ook gebreek in 'n poging om dit met behulp van 'n metaalinplanting reguit te kry.
In Desember vanjaar ontvang sy verdere operasies aan haar hande. Sy benodig ook fisioterapie.
Volgens haar ma is die missie om Leah-Rose se lewe so gemaklik moontlik te maak.
"Ons wil toesien dat sy niks kortkom as ons, haar ouers die dag nie meer daar is nie. Dis vir ons belangrik dat sy onafhanklik moet kan wees," verduidelik Lenor.
Leah-Rose sal haar lewe lank van 'n prostese afhanklik wees. Tot en met sesjarige ouderdom, verskaf die staatshospitaal aan haar 'n prostese, waarna haar ouers hierna sal moet omsien. Op 30 April om 16:00 word 'n vrouekonferensie gehou om geld in te samel vir Leah-Rose se pad vorentoe.
Die sprekers is Anita Pieterse en Annabell October. Die tema is Through it all.
Kaartjies kos R200. Vir meer inligting kontak Bronwyn Adonis (078 391 5898).
Daar lê verskeie operasies vir Leah-Rose voor. Die eerste hiervan het sy op eenjarige ouderdom gehad.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'