SOUTHERN CAPE NEWS - Die mooiste kunswerke is besig om in te stroom vir die jaarlikse Kansa Art From The Heart-projek wat op Vrydag, 6 Oktober om 18:00 by die St Augustine Kerksaal, Meadestraat, George, aangebied word.
Meer as 50 kunstenaars vanuit die Klein-Karoo en die Suid-Kaap neem vanjaar aan die projek deel.
"Ons het al van die kunswerke terug ontvang en al wat ek kan sê is dat dit weer eens van uitstaande gehalte is.
"Daar is die mooiste skilderye beskikbaar en beslis iets na elkeen se smaak," sê Lucinda Viljoen, gemeenskapsmobiliseerder fondswerwing vir Kansa, George.
Kansa voorsien deelnemende kunstenaars van skilderdoeke en die hartskunswerk van die onderskeie kunstenaars word dan aan die organisasie geskenk.
Al die betrokke kunstenaars se werke word dan op Vrydag, 6 Oktober uitgestal en opgeveil ten bate van Kansa Suid-Kaap Karoo wat die fondse weer op hul beurt aanwend vir dienslewering in die streek.
"Ons is besonder dankbaar teenoor elke kunstenaar. Die publiek is welkom om die veiling van die Suid-Kaap se beste kunstenaars by te woon teen R50 per persoon."
Toegang sluit 'n ligte ete in.
Die skilderye kan tussen 09:00 en 16:00 besigtig word teen R10 per persoon.
Anita Barnard, bekende skilder van Stilbaai is een van die sowat 50 skilders uit die Klein-Karoo en Suid-Kaap wat vanjaar die Kansa Art From The Heart-projek ondersteun.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'