KLEIN BRAKRIVIER NUUS - VLV Klein-Brakrivier tak het aan die begin van Maart die 86ste sirkelkonferensie van VLV SWD in die Reebok-gemeenskapsaal aangebied.
Verteenwoordigers van 15 takke het dié geleentheid met die tema, Laat 'n voetspoor, bygewoon.
Die openingsrede het gehandel oor die boek Laat voetspoor deur Wynand du Toit. Dit het gepaard gegaan met 'n boekuitstalling. Die skriflesing en gebed is deur ds Gerrit van Dyk gedoen waarna 'n mannekoor 'n item gelewer het.
Dit was 'n propvol en interessante program met sprekers in verskeie van die VLV se afdelings. Die bekende kenner, prof Rossouw van Solms het vir die afdeling opvoeding en kultuur gesels oor veiligheid in die kuberruim terwyl 'n geliefde en bekende in die omgewing, kol Jan Stripp vir openbare sake oor traumaberading gesels het. Hiermee saam is die Sergeant Care Bears wat spesiaal vir kinders in traumasituasies deur VLV-lede gemaak is, op uitstalling aangebied.
Die veelsydige Annlerie van Rooyen van Ageless Grace het vir gesondheid die vroue laat oefen en lag. VLV Klein-Brakrivier se ikebana-entoesias, Lydie Terblanche, het namens kunste en handvlyt oor die geskiedenis van ikebana as blommerangskikking en kunsvorm gesels waarna Anina van Tonder van African Rosella se kleurvolle uitstalling vir leefstyl aangebied is. VLV-taklede het spesiale musse vir Kansa gemaak. Ter afsluiting het landbou en tuinbou vir dr Guy Witney van Groot Brak Avofarm, aan die woord gestel.
Klein-Brakrivir-tak het drie puik prestasies in die kongres- en konferensie-afdeling opgelewer. Hulle is: Engela Buys - tweede plek vir haar smaaklike truffels, Heléne Swanepoel - derde plek vir haar besonderse geborduurde kussingsloop en Deville du Plessis - derde plek vir haar roerende foto met die tema, Hou my styf vas Mamma.
Klein Brak se VLV-lede het fluks gewerk vir die SWD sirkelkonferensie wat deur hulle tak aangebied is.
Heléne Swanepoel van die Klein Brak-tak het 'n derde plek verower vir haar besonderse geborduurde kussingsloop.
Die musse wat die VLV-lede vir Kansa gebrei het op uitstalling.
'Ons bring jou die nuutste Klein Brakrivier, Tuinroete nuus'