MOSSELBAAI NUUS - Inwoners en stappers op die Punt-wandelroete, wat verby Beacon Point loop, het onlangs afgekom op stutpale langs die roete wat gebruik was om vuur te maak. Die pale het nog gesmeul.
Dié voorval, asook rommelstrooiing en ander insidente in hierdie area, is tans ’n bron van kommer vir mense wat hier woon en stap.
By navraag het die Mosselbaai-munisipaliteit gesê die vuurmaak-voorval is by die brandweer aangemeld en hulle het dit hanteer.
“Geen persone is op die toneel aangetref nie. Indien persone wel op die toneel aangetref sou wees, sou ’n arrestasie [deur die SAPD] kon plaasvind op grond van brandstigting,” het die munisipaliteit gesê.
Aanmeld van insidente
Daar was ook al klagtes dat munisipale wetstoepassing nie reageer wanneer hulle geskakel word vir voorvalle nie. Die munisipaliteit sê die vuurmaak-insident is nie by wetstoepassing aangemeld nie, maar “lede van die publiek wat onvoldoende diens wil aanmeld, word aangemoedig om alle details soos die datum, tyd, hulle kontaknommer en aard van die klag te verskaf sodat dit in die rekords nagespeur en ondersoek kan word”.
Alle klagtes word in ’n voorvalleregister gedokumenteer, asook die uitslag van die beamptes se optrede. Insidente kan by die JOC aangemeld word by 044 606 5204.
Patrollies
Gevra watter stappe daar tans geneem word om voorvalle soos hierdie te hanteer of voorkom, het die munisipaliteit gesê dat patrollies in die Beacon Point-omgewing verskerp is, veral in die nagtelike ure.
“Hierdie besoeke vind gereeld plaas en word in operasionele voorvalregisters aangeteken. Inligting wat deur CCTV-monitering en patrollies ingesamel word, dra by tot voortdurende wetstoepassingsaksies en reaksieplanne,” het die munisipaliteit gesê.
“Privaat sekuriteitspanne wat in die middedorp ontplooi is, vervul ook ’n belangrike rol in waarneming, rapportering en die afskrikking van onwettige aktiwiteite. Die aanspreek van veiligheidsuitdagings in openbare ruimtes vereis samewerking tussen munisipale wetstoepassing, privaat sekuriteit, ander wetstoepassingsagentskappe en die gemeenskap.”
Wetstoepassers beweeg oor 2 007 km²
Die munisipaliteit het benadruk dat wetstoepassingshulpbronne oor die hele munisipale gebied van 2 007 km² ontplooi word en nie permanent by een spesifieke ligging gestasioneer kan word nie.
“Patrollies word volgens operasionele behoeftes en geïdentifiseerde probleemgebiede beplan en ontplooi, met beamptes wat voortdurend tussen verskillende gebiede beweeg om die grootste moontlike impak te verseker. Hoewel die publiek nie noodwendig onmiddellik ’n teenwoordigheid by elke voorval waarneem nie, beteken dit nie dat daar nie opgetree word nie.”
Verordening insake die beheer van strand en see
Inwoners van Beacon Point het in die verlede klagtes gehad oor persone wat in die area slaap, visvang, kuier met drank, en dies meer. Die munisipaliteit se verordening insake die beheer van strand en see reguleer sekere aktiwiteite op openbare plekke.
“Ingevolge die toepaslike verordeninge word die slaap of oornag op openbare plekke nie toegelaat nie, en die maak van oop vure op openbare grond is eweneens verbode.
Wanneer oortredings aangemeld of waargeneem word, word dit deur die relevante wetstoepassingsowerhede hanteer binne die raamwerk van die geldende wetgewing en beskikbare hulpbronne.
“Dit is egter belangrik om te onderskei tussen onwettige gedrag en wettige openbare aktiwiteite. Persone wat die area vir ontspannings- of bestaansvisvang gebruik, kan nie verbied word om daar vis te vang indien hulle binne die bepalings van toepaslike wetgewing optree nie.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’