MOSSELBAAI NUUS - Adv. Phyllis Vorster van AfriForum se privaatvervolgingseenheid het onlangs ’n groep vroue toegespreek oor mishandeling, die reg, en wat hulle in verskillende situasies te doen staan.
Vorster was vir etlike jare ’n staatsaanklaer voor sy by die vervolgingseenheid aangesluit het, waar sy nou met Gerrie Nel saamwerk.
Gedurende ’n damesoggend vroeër vandeesmaand op Mosselbaai het sy oor verskillende sake gesels wat nie deur die nasionale vervolgingsgesag vervolg is nie, en wat hierdie eenheid dan hanteer het.
Hierdeur het sy geïllustreer hoe en waar die strafreg vroue en kinders faal.
Een ding wat amptenare moedeloos maak, sê Vorster, is slagoffers wat sake open en dit dan weer terugtrek.
Sy het talle voorbeelde gegee van geweld wat oor die jare toeneem. Een saak het byvoorbeeld enkele voorvalle oor ’n aantal jare bevat waar die man die vrou aangerand het. Dit het geëindig deurdat hy die paartjie se dogtertjie seksueel mishandel het.
Slagoffers word dikwels gevra hoekom hulle nooit ’n saak gemaak het nie, of nie gouer so gedoen nie. Vorster sê daar is verskeie dinge wat hier ’n rol speel, van vrees tot geld en meer, maar niks kan gebeur sonder dat ’n saak geopen word nie.
Hofsake kan jare neem om afgehandel te word; daarmee saam kom dikwels nog trauma, maar die teendeel is dat die beskuldigde vrygaan en dit moontlik weer doen.
Dit in ag geneem, sê Vorster die slagoffer moet hulle besluit neem en saam leef met wat ook al die nagevolge van daardie besluit is.
Dis hier waar sy ook sterk klem gelê het op die rol wat vriende en familie kan speel wanneer iemand na aan hulle ’n slagoffer van geweld of mishandeling is. Ondersteun iemand waar jy kan, brei jou eie kennis oor strafreg uit en ondersteun organisasies wat slagoffers help.
Praktiese wenke wat sy gegee het sluit in:
• Jy mag ’n video neem sonder iemand se kennis, maar jy moet ’n party in die video wees.
• Dokumenteer gebeure. Neem foto’s en video’s. Skryf alles neer.
• Stuur bewyse na familie en vriende.
• Skryf sommer self ’n verklaring en neem dit vir die polisie.
• Jy mag en moet ’n saak maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’