MOSSELBAAI NUUS - Gedurende Jeugmaand, is die welsyn van die jeug van alle ouderdomme opnuut op die voorgrond.
Pastorale narratiewe terapeut, Stefanie Minnaar, 'n kundige op die gebied van ouer-tiener-verhoudings, deel 'n paar insigte rakende kinders en gesprekke oor seks.
"Dr Phil sê altyd 'If you wait untill 8 it is too late' en hierdie woorde is vandag meer waar as ooit te vore," meen Stefanie.
"As jy wag vir jou kind om eerste te begin uitvra oor seks maak jy jou kind se seksuele gesondheid die kind se verantwoordelikheid, wat dit allermins is."Volgens haar sal kinders deur middel van pornografie, TV, vriende, sosiale media, videospeletjies, musiekvideos en dies meer van seks leer, as ouers nie self met hulle daaroor praat nie.
Sy sê die mens is as intellektuele, geestelike, fisiese, sosiale, emosionele en seksuele wesens geskape, maar in die algemeen maak ouers seker dat hul kinders in elkeen van hierdie aspekte gesond ontwikkel, behalwe in die seksuele ontwikkeling.
"Gesprekke oor seks en seksualiteit op 'n jong ouderdom is nodig om probleme later in die lewe te vermy. Probleme soos 'n lae selfbeeld, depressie, skuldgevoel, body image-probleme, groepsdruk, soeke na liefde op die verkeerde plekke - om maar net 'n paar te noem. Wanneer 'n kind gemaklik voel in sy seksuele identiteit en seks, asook seksualiteit verstaan, voel hul beter oor hulself en sal dus beter besluite maak vir hulself."
Stefanie stel voor dat ouers die Facebookblad Birds & Bees & Kids besoek vir oulike "taal" wat ouers bemagtig om die seksgesprek gemakliker en meer natuurlik te maak.
"Volgens navorsing, was toegang tot onwelvoeglike en obsene materiaal nog nooit so toeganklik soos op die huidige oomblik nie. Dus, as jou jong kind maatjies het met ouers broers of susters wat selfone besit, is die risiko vir blootstelling aan pornografie, groot. Volgens Amy Lang van Birds & Bees & Kids, is daar al meer nege- en tienjariges wat 'per ongeluk' op pornografie afkom en so van seks leer. Omdat hulle nie weet waarna hul kyk nie, is dit vir hulle baie 'snaaks' en daarom stuur hulle dit vir ander maatjies aan."
Stefanie maan ook dat ouers nie vandag dieselfde "gewone" sekspraatjie met hul kinders kan hê wat hulle byvoorbeeld 10 jaar gelede gehad het nie.
"Kinders moet weet dat God seks as 'n geskenk gegee het vir twee mense wat lief is vir mekaar, maar dat die wêreld dit verwring het met pornografie.
Jou sekspraatjie moet inligting oor pornografie insluit sodat kinders dit kan herken wanneer hulle 'per ongeluk' daarop afkom," maan sy.
Hoekom is 'n gesprek oor pornografie so belangrik?
"Jong kinders is meer kwesbaar vir pornografiese materiaal as volwassenes as gevolg van mirror-neurons in hul ontwikkelende brein. Mirror-neurons oortuig die persoon dat hulle self ervaar wat hul sien. Dit speel 'n belangrike rol in die manier waarop kinders leer. Kinders leer hoofsaaklik deur nabootsing van ander mense se gedrag."
Stefanie verduidelik dat kinders van nege tot 16 jaar vir altyd verander wanneer hulle aan pornografie blootgestel is.
"Hierdie ouderdom is krities in die ontwikkeling van die kind se identiteit. Pornografie-verslawing steel jou lewe en vernietig verhoudings. Dit los wonde van skuldgevoel en skaamte wat moeilik is om te herstel."
Jong kinders wat blootgestel is aan pornografie se seksuele grense word ook afgebreek. Hulle verstaan gevolglik nie wat ontoepaslike toenadering is nie en is dus baie meer kwesbaar vir molestering.
"Ek daag elke ouer van jong kinders uit om Carmen Watt se boek te lees, naamlik Why; sexual abuse & pornography: Daily Battles that can Cause a Lifetime of War. Hierdie boek laat jou vinnig die erns van die saak te besef."
* Besoek Stefanie se Facebookblad Ouer-Tiener Harmonie vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'