Hy het na bewering uit Adriaansweg in Mayixhaleweg ingedraai en by die rooi verkeerslig by die kruising met Louis Fourieweg stilgehou toe hy deur drie mense, waarvan een gewapen was, gekonfronteer is.
Volgens die amptelike verklaring het drie persone, waarvan een met 'n pistool gewapen was, die voertuig-eienaar beveel om uit sy silwerkleurige Audi te klim. Hierna het die kapers die man vasgebind en geblinddoek, weer in die motor gelaai en verder gery tot by 'n beboste area oorkant die Mosselbaai Korrektiewe Jeugsentrum.
Hier het hulle die man glo gedwing om sy bankkaart, PIN-nommer en selfoon te oorhandig, waarna hulle met die gekaapte voertuig weggery het.
Die man het daarna tot by die Garden Route Casino gestap, waar hy gaan hulp soek het.
Op Donderdagoggend, 7 Augustus, omstreeks 10:00 het Ao Liezle Coetzee, kst Mkansi en kst Duitsjan, lede van die KwaNonqaba Misdaadvoorkomingseenheid, die gekaapte voertuig op die plaas Fairview in die KwaNonqaba-polisiedistrik by die huis van een van die verdagtes se familie gevind.
Drie verdagtes, 'n 30-jarige man, en twee vrouens onderskeidelik 17 en 31 jaar oud, is gearresteer.
Die voertuig, wat glo sedert die kaping wyd en syd in die Mosselbaai-distrik gebruik is, is op die toneel vir vingerafdrukke ondersoek en is daarna deur die polisie verwyder.
Volgens sers Kappie Kapp, kommunikasiebeampte van die KwaNonqaba-polisiestasie, is dit van die eerste motorkapingsake tot nog toe hier aangemeld. Die die motief van die voorval word nog ondersoek.
Dit is nog nie bevestig of die beskuldigdes die bankkaarte wat hulle van die voertuig se bestuurder geroof het, gebruik het nie.
Volgens die SAPD Suid-Kaap woordvoerder, kapt Malcolm Pojie, is 'n motorkaping-dossier aanvanklik geopen vir ondersoek by die KwaNonqaba Polisiestasie. Die dossier is intussen oorgeplaas na die Voertuig Identifikasie Eenheid op George vir verdere ondersoek.
Ao Liezle Coetzee bedank die gemeenskap vir hulle samewerking wat tot die arrestasie van die verdagtes en terugvind van die voertuig gelei het. Die bevelvoerder van die KwaNonqaba polisiestasie, lt kol Johnny Braaf, het trots reageer op die deurbraak wat in hierdie geval gemaak is.
"Dit wys weer eens die toegewydheid van die KwaNonqaba polisielede," het kol Braaf bygevoeg.
Die Da Gamaskop Gebiedsbevelvoerder, brig Gerhard Jantjies het bygevoeg dat hy baie trots is op die lede, wat goeie inligting deur die gemeenskap opgevolg en daarom 'n blitssnelle deurbraak gemaak het.
"Dit wys weer dat misdadigheid in Mosselbaai nie geduld word nie. Dankie aan die gemeenskap vir hulle samewerking," het brig Jantjies gesê.

Kst Mkansi van die KwaNonqaba Polisie ondersoek die voertuig.
ARTIKEL EN FOTO'S: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'