MOSSELBAAI NUUS - Vanaf 7 Augustus sal Hoërskool Punt se eie Tawananyasha Bandason op die TV-reeks Maak my 'n miljoenêr te sien wees.
Maak my 'n miljoenêr is 'n entrepreneurs-kompetisie.
Die uitdunronde, waaraan Tawananyasha op 3 April deelgeneem het, het haar entrepreneurskennis en -vaardighede tot die uiterste beproef - en nou is sy in die top 30.
Dié kompetisie is 'n inisiatief van Albert van Wyk in samewerking met ATKV-jeugprojekte, Die MOS Inisiatief, Akademia en ATKV-oorde. Die doel is tweeledig: die bewusmaking van entrepreneurskap by skole en die bemagtiging van entrepreneurs deur mentorskap en ondersteuning.
Die Maak my 'n miljoenêr-span het verlede Oktober 'n landswye toer afgeskop op soek na die hoërskoolentrepreneur wat Albert kan mentor om hom of haar 'n miljoenêr te maak.
Die span het 82 skole besoek en 92 000 hoërskoolleerders toegespreek, en 230 hoërskoolentrepreneurs het vir die kompetisie ingeskryf.
'n Top 60 is hieruit gekies, en Tawananyasha was een van hulle.
Die top 60 moes die Brandbank-uitdunronde bywoon. Die 'Brandbank' is 'n letterlike rooi bank waarop die jong entrepreneurs voor 'n paneel beoordelaars moet sit.
Hier word hulle oor hul besigheid ondervra om te toets of hulle dit regtig goed ken, en om te kyk of hulle het wat dit verg om na die volgende ronde deur te dring. Die beoordelaars, Albert van Wyk, Marcius van Antwerp, Jason Coulson, Lisa met die rooi hare (Lisa van Niekerk) en Tony van der Merwe, wat almal baie ervaring op die sakegebied het, was moeilik om te beïndruk, maar Tawananyasha het uitgeblink.
Die top 30 gaan nou in die volgende ronde getoets word waar hulle oplos-sings vir regte wêreldprobleme in bestaande sakeondernemings soek. Die entrepreneurs gaan moet wakker wees vir die uitdagingsrondes, omdat daar na elke uitdaging 'n afstemming sal wees.
Om te sien hoe Tawananyasha in hierdie ViaTV-reeks vaar, kyk gerus om 19:30 vanaf 7 Augustus op kanaal 147.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’