MOSSELBAAI NUUS - Anniel Groenewald het in 2019 aan Hoërskool Sao Bras matrikuleer. Onder die top kandidate in sy klas, was sy pad vorentoe wawydoop.
Sy toekomsplanne was om die idilliese drome uit sy kinderdae van verdere studie en graadvang te verwesenlik.
Soos baie eerstejaars is hy vroeg in 2020 blinkoog kampus toe, net om terug te keer huis toe, toe Covid-19 toeslaan.
Hy het egter besluit dit gaan hom nie stuit nie. Sy akademiese uitslae in 2020 het hom selfs 'n hoër sport laat bereik.
"Ek onthou nog daar is gesê die universiteit gaan vir twee weke sluit om die gevalle van Covid-19 te beperk. Skielik was my prentjie van 'n doodnormale studentelewe daarmee heen. Dit was 'n effense teleurstelling vir my, maar dit het nie my gees gedemp nie."
In sy ouerhuis het nie veel verander nie, maar hy het die waarde van die gesegde, no man is an island besef en meer hulp van sy famililede gevra en aanvaar.
Ten spyte van die pandemie, is hy 'n toegewyde onderwysstudent.
"Die droom wat my motiveer, is dat ek die dokters of selfs die Elon Musks van die toekoms wil help vorm."
Prestasie
Anniel se droom het hom duidelik behoorlik vlerke gegee, te oordeel aan sy onlangse prestasie.
Hy is gekies om deel te word van die Golden Key International Honour Society.
Dit is 'n welbekende internasionale organisasie wat uitblinkerstudente kies, verder ontwikkel en erkenning vir hulle harde werk gee.
Lede moet onder die top 15% in hulle studieveld wees om in aanmerking te kom en kry deur die organisasie, wat bande met 400 universiteite wêreldwyd het, toegang tot onder meer beurse, reisvoordele en buitelandse studiegeleenthede.
Hoewel Anniel beken dat die staaltjies van studentelewe hom soms laat voel dat hy iets mis, hy tog vreugde daaruit put dat hy binne sy ondersteuningstruktuur kan studeer.
"Wat ek geleer het in hierdie vreemde tydperk, is om steeds groot te droom en enige kritiek te aanvaar ten einde 'n beter weergawe van jouself te skep."
Hy meen ook dat die maak van 'n koersaanpassing wat jou toekomsdrome betref makliker is as jy kundige advies vra en dit aanvaar.
"Ek sien myself in die toekoms as 'n jong suksesvolle onderwyser wat 'n aktiewe rol in die kinders se lewe sal speel. Nie net binne die skoolkonteks nie, maar wel in die gemeenskap. Ek wil 'n held in my leerders se oë wees."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'