Update
MOSSELBAAI NUUS - Die 18-jarige vrou wat gisteroggend, op Woensdag 4 Mei in ‘n botsing met haar motorfiets op Louis Fourieweg dood is, was ‘n graad 11 leerder aan die Hoërskool Punt op Mosselbaai.
Die oorledene, Norica Dos Reis Da Silva was vroegoggend op pad skool toe in die rigting van Mosselbaai, toe sy in ‘n motorfiets wat voor haar gery het gebots het.
‘n Voorlopige ondersoek dui daarop dat ‘n voertuig voor dié motorfiets gerem het, om regs by die Mosselbaai-landdroshof in te draai.
“Die motorfiets het gerem maar dit blyk dat Norica nie betyds gerem het nie en toe in die motorfiets voor haar vasgery het,” sê polisiekommunikasiebeampte, ao Pieter Koekemoer.
Koekemoer sê digte mis wat in die omgewing voorgekom het, het waarskynlik motoriste se sig belemmer.
Norica is na 'n hospitaal op Mosselbaai afgevoer waar sy later oorlede is.
Skoolhoof van Hoërskool Punt, Adolf Gouws sê hulle is baie hartseer oor die nuus.
“Norica was ‘n pragtige kind. Haar broer is ook in ons skool. Hulle het oulike ouers wat gereeld by die skool betrokke was en ons deel die familie se verlies,” sê Gouws.
Die skool gaan vandag, op Donderdag, 5 Mei na pouse ‘n oomblik van stilte hou. Die Mosselbaai-polisiestasie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag.
VORIGE ARTIKEL: Jong vrou sterf in botsing
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'