Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEOS - 'n Plaaslike jong seun het binne 'n paar maande vandat hy aan duiwesport deelneem, vir homself naam gemaak in die Mosselbaai-posduifklub.
Marinus van der Mescht (15), leerder by Hoërskool Punt het met die afgelope naweek se wedvlug vanaf Britstown verskeie plekke in die verskil-lende afdelings onder die juniors van die klub verower.
Een van sy jong duiwe het in die jaaroud-afdeling gewen terwyl een van sy ouer duiwe vierde in die ope-afdeling was.
Marinus se wenduif in die jaaroud-afdeling palm boonop ook vir hom die wenposisie in die Eden Duiwefederasie in. Verskeie klubs se juniors neem in hierdie afdeling deel. Die vorige naweek het Marinus ook gewys dat hy en sy posduiwe nog groot hoogtes in die duiwesport gaan behaal. Hy het derde gekom met die jong duiwe en tweede met die ou duiwe in die junior-afdeling.
Pa Jerry
Soos baie van die jongelinge in dié sportsoort kom die liefde vir die duiwe van sy pa af. Pa Jerry het self van jongs af posduiwe gevlieg en so belangstelling in die sport by sy oudste seun, ook Jerry, gekweek.
Marinus, het altyd hand bygesit om vir pa en ouboet te help en het 'n jaar gelede self begin om duiwe te vlieg. Pa Jerry sê sy seuns het hom nou oortref en hulle duiwe wen nou meer as syne.
VIDEO - Jong sportman begin naam maak in duiwesport (Video: Jannie du Plessis, Mossel Bay Advertiser).
Marinus sê egter dat tyd maar min is en tussen sport en skoolwerk. Naweke spandeer hy meer tyd met sy duiwe. Gelukkig is sy familie almal betrokke en waar ma, Marieke, help met die administrasie en papierwerk is daar vir elkeen in die gesin 'n takie om te doen.
Die posduifsport is baie gesofistikeerd en elke sportman/vrou het sy/haar eie geheime resep wat kos, oefeninge en voorbereiding vir wedvlugte aanbetref.
Belangstellende jongelinge word aangemoedig om by die sport betrokke te raak.
VIDEO - Pa Jerry gesels oor sy twee seuns en hulle duiwe (Video: Jannie du Plessis ).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'