Breaking News
KLEIN-BRAKRIVIER NUUS - Twee inwoners van Klein-Brakrivier is Maandag gedurende 'n werksbesoek in Gqeberha (Port Elizabeth) wreed aangeval.
Senior plaasbestuurder, Nico Labuschagne (46), en plaasbestuurder, Alwyn Dippenaar (27), is deur hul werkgewer, Rooiheuwel Farms, na die Large Herds Konferensie in Gqeberha gestuur.
Hulle sou die konferensie Maandag en Dinsdag bywoon en het in 'n gastehuis in Summerstrand tuis gegaan. Labuschagne en Dippenaar het Maandagaand 'n dinee bygewoon waarna hulle terug na hulle gastehuis gestap het.
Op pad terug is hulle egter enkele meters van die gastehuis deur drie gewapende mans met pangas aangeval.
Alwyn Dippenaar (27)
Die verdagtes het aangedring op hul selfone en beursies. Ondanks die aanval kon Dippenaar daarin slaag om die gastehuis se hek oop te stoot waarna hy Labuschagne agterna gesleep het en die hek betyds kon toedruk sodat die aanvallers nie toegang tot die perseel kon kry nie.
Die verdagtes kon nie daarin slaag om iets te steel nie en het op die vlug geslaan. Labuschagne het wonde aan sy arms en rug opgedoen en sy linkerhand is bykans by die pols afgesny.
Dippenaar het minder ernstige beserings opgedoen en het self na 'n hospitaal gery. Labuschagne was die afgelope week in teater om senings aan sy arm te heg.
Hy was met die ter perse gaan steeds in die Life St George hospitaal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’