MOSSELBAAI NUUS - Inwoners van Highway Park op Mosselbaai het die afgelope naweek reg in eie hande geneem nadat die 21-jarige Wilton Januarie op Saterdag, 19 Junie met ‘n skerp voorwerp doodgesteek is.
Die polisie is om ongeveer 23:40 na die toneel ontbied en met hulle aankoms het Januarie in die pad in ‘n woongebied in Highway Park gelê. Hy is later die aand in die Mosselbaai provinsiale-hospitaal oorlede.
Polisiewoordvoerder, sersant Kappie Kapp sê inwoners het kort na die voorval verdagtes wat glo by die moord betrokke was, aangerand.
“Niemand is egter nog formeel aangekla nie. Die mense wat deur die gemeenskap aangerand is, is tans in die hospitaal.” Kapp sê die polisie ondersoek die moord en sal hopelik binnekort verdagtes in hegtenis neem.
Die polisie vra dat enige ooggetuies die ondersoekbeampte in die saak kontak by 044 606 5608.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'