Hy het op Schiphol lughawe vir die eerste keer met die staatsman kennis gemaak nog voordat hy die eerste demokraties verkose president van die nuwe Suid-Afrika geword het.
"Daardie jare was dit nie algemeen vir mnr Mandela om met Ambassadeurs te vergader nie, maar ek het hom op die lughawe ontmoet toe hy op pad was om mnr Oliver Tambo te ontmoet," berig mnr Nothnagel.
"Een van my trotse Afrikaanse oomblikke was egter toe die Nederlandse Minister van Binnelandse Sake, mnr Van den Broek, op Engels aan mnr Mandela vra of hy al die Suid-Afrikaanse Ambassadeur, menende ek, ontmoet het. Mnr Mandela se antwoord was in Afrikaans: 'Nee, ek ken hom, hy is ons mense'. Dit was 'n oomblik wat ek nie sommer sal vergeet nie".
Op Schiphol lughawe het mnr Nothnagel egter kans gehad om 'n wyle langer met die man te gesels wat President sou word.
"Ek was veral beïndruk met sy menslikheid."
Mnr Mandela het mnr Nothnagel tydens hierdie gesprek bedank vir wat hy vir die demokratiesering van Suid-Afrika beteken het, tekenend van sy breë en in-diepte kennis oor politieke sake in die Parlement. Mnr Nothnagel het benewens sy Ambassadeurspos in Nederland ook in die Parlemente van verskeie vorige presidente gedien.

Mnr Albert Nothnagel, destyds Suid-Afrika se Ambassadeur in Nederland (naasregs met strikdas), ontmoet mnr Nelson en mev Winnie Mandela. Heel links is die destydse Nederlandse Minister van Binnelandse Sake, mnr Van den Broek. Foto: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'