Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS - Juan Joubert het reeds op 'n jong ouderdom begin drink, dagga rook en was 'n volslae heroïen verslaafde op 16.
Hy was vir 27 jaar in en uit 40 rehabilitasiesentrums tot, soos hy vertel, God ingetree het. Die Here het vir hom gesê: "Dit is nou My beurt. Jy gaan nou gebruik wat jy gedoen het, om ander mense te help."
FOTOGALERY: House of Valor in Friemersheim
Juan is nou 7 jaar gerehabiliteer en sy doelwit is om ander te help, om ander hulle eie waardes te laat raaksien en om 'n nuwe sober lewe te lei.
Hy het in April 2023 die House of Valor in Friemersheim begin om mense, wat reeds deur die rehabilitasie-proses is, te bemagtig om op hul eie voete te staan.
Daar is nou sewe jong mans wat die pad na 'n sober lewe saam met Juan en sy bestuur stap. "Dit is nie 'n maklike pad om te loop nie. Ons wys hulle wat hulle werd is, waartoe hulle in staat is en dat hulle moet uitgaan en krygers vir God moet wees en die lewe geniet, maar met nuwe waardes."
Die gerehabiliteerdes is besig om ‘n koffietafel te maak wat opgeveil gaan word om fondse in te samel.
Sampie Stander is al drie maande by die sentrum en is deel van die werkwinkel-span gemoeid met houtwerk, wat beplan om koffietafels te maak om dan te verkoop.
Volgens Sampie is House of Valor 'n halfweghuis waarna mense kan kom ná rehabilitasie om hul lewe te verbeter en weg te kom van wêreldse probleme. Marnus Stander beveel aan dat mense wat wil herstel na 'n lewe van misbruik, na dié plek moet kom.
Hy is oorspronklik van Port Elizabeth en het Mosselbaai toe gekom om sy lewe te verander. Hy en Juan is in dieselfde kerk en hy het so van die plek gehoor.
"Ek was aan tik verslaaf, maar as ek hier is, het ek nie cravings nie. Hulle hou ons besig, ons bly aktief, doen bybelstudie en ons werk lekker saam as 'n span. Juan sê hulle is deursigtig, enige iemand kan kom kyk wat hulle doen. Ons is 'n nie-winsgewende organisasie.
"Daar is 'n groot nood vir wat ons doen en die plan is om nog sulke huise te begin. Mens sal altyd 'n 'recovering addict' wees, maar as jy die regte dinge in plek sit, kan jy steeds die lewe geniet. Dis net "amazing".
Volgens oom Hennie Knoesen, Juan se aanstaande skoonpa, word die jong mans ook dissipline en roetine geleer om hul beddens op te maak, self skoon te maak, saam kos te maak. Hulle leer om selfstandig te wees en te begroot met die toelae wat hul kry. Mens vergeet dat hierdie mense nog nooit na hulself moes omsien in die gewone samelewing nie. Dit is 'n vaardigheid wat hulle hier leer om onafhanklik te funksioneer as hul uiteindelik op hul eie bene staan.
LINKS: Die pragtige uitsig in Friemersheim waar die House of Valor onlangs begin is om gerehabiliteerdes te help om sober te leef.
Behalwe die werkswinkel om houtprodukte te vervaardig, bottel die inwoners ook spesiale souse wat van jalapenos gemaak word. Juan neem die jongmans saam na die winkels toe waar hulle die produk bemark en so verdien hulle dan kommissie op elke bottel, wat verkoop word. House of Valour is 'n geregistreerde nie-winsgewende organisasie (NWO) en benodig die publiek se hulp om gerehabiliteerdes te help om 'n volhoubare sober lewe te lei.
Kontak Juan op 064 512 4571 vir verdere inligting.
Die souse wat gebottel en verkoop word om fondse in te samel vir die NWO. Foto's: Alet Engelbrecht
VIDEO - Juan Joubert verduidelik die werkswyse om selfonderhoudend te raak by die House of Valor.
VIDEO - Juan Joubert het die House of Valor (NWO) halfweghuis begin nadat God hom daartoe geroep het.
VIDEO - Sampie Kruger vertel van hul toekomsplanne met die tafels wat hulle wil maak en verkoop.
VIDEO - Marnus Stander, 'n inwoner van House of Valor vertel wat dit vir hom beteken om sober te leef.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’