HARTENBOS NUUS - Drie onwikkelings naby die Hartenbos area het inwoners aan die wonder oor die voltooiingsdatums.
Die beplande BP-vulstasie naby Monte Christo, the beplande Garden Walk Mall, ook naby Monte Christo, en die vulstasie by Salt & Copper.
By navraag aan die Mosselbaai-munisipaliteit het die direktoraat beplanning en ekonomiese ontwikkeling bevestig dat daar tans goedgekeurde bouplanne vir die beplande ontwikkeling van Garden Walk Mall is.
Hoewel 'n volledige verklaring nog verwag word, het die Moolman Group ook bevestig dat die projek wel voortgaan en hulle binnekort sal grondbreek.
Wat die twee vulstasies betref, sê die munisipaliteit hy beskik nie oor inligting met betrekking tot die voltooiingsdatum van die vulstasies nie.
"In beide gevalle is daar kwessies uitstaande, wat die konstruksieprogram beïnvloed. Dié kwessies moet egter deur nie-munisipale organisasies en departemente hanteer en goedgekeur word. Die munisipaliteit stel voor dat die onderskeie eienaars of projekbestuurders direk gekontak word vir meer inligting."
Helmut Morule, woordvoer vir BP, sê konstruksie vir die voorhof, winkel en karwas is reeds in aanvang en is 60% voltooi.
"Ons verwag dat die vulstasie binne agt weke na die voltooiing van werke sal heropen. Dit sal iewers in kwartaal een van 2025 wees."
Dit is onduidelik wanneer die vulstasie naby Salt & Copper voltooi sal word. Petroeng, die maatskappy se naam wat daar vertoon word, het nog nie op navrae van die Mossel Bay Advertiser gereageer nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’