MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai, met sy rykdom aan historiese geboue, beklee ‘n unieke plek in die erfenislandskap van Suid-Afrika, soos ons dit vandag ken.
Dit is veral te danke aan die dorp se maritieme erfenis, en dit is die hawe wat die vonk hiervoor verskaf het.
Die dorp se gedokumenteerde maritieme erfenis kan teruggevoer word na 3 Februarie 1488 toe die Portugese seevaarder Bartolomeu Dias voet aan wal gesit het by wat nou as Munrobaai bekend staan. Oor die volgende paar eeue heen het ander Europese skeepsvaarders om die suidelike punt van Afrika na die Ooste sy voorbeeld gevolg om vars produkte en water in Mosselbaai aan boord te neem.
‘n Melkhoutboom naby Dias se landingsplek het in 1501 Suid-Afrika se eerste poskantoor geword toe Pedro d’Aitade ‘n brief vir admiraal Jaoa da Nova in ou stewel opgehang het. Die brief is later daar deur Da Nova afgehaal. In 1601 het die Hollandse seevaarder, Paulus van Caerden, Mosselbaai sy naam gegee na aanleiding van die groot hoeveelhede mossels wat hulle hier gevind het.
Mosselbaai het egter sy beslag as ‘n uitvoerhawe regtig in 1788 gekry toe ‘n skeepsvrag graan, geproduseer in die aanliggende binneland, hiervandaan na Batavië uitgevoer is. Dit was die begin van die in- en uitvoerhandel, asook gereelde kusvervoer van en na die ander hawens aan die Suid-Afrikaanse kus, wat groot welvaart vir die dorp in die laat 1800’s en vroeë 1900’s gebring het.
Die Mosselbaaise hawe het die huidige Suid-Kaap, Klein-Karoo en dele van die Karoo, wat in daardie stadium nog nie per spoor met die hawens in Kaapstad en Port Elizabeth verbind was nie, bedien. Landbou-, hout, en ander produkte uit hierdie streke is van Mosselbaai af na plaaslike sowel as oorsese markte verskeep.
Die eerste bevestigde hawestruktuur, Bland’s Jetty, is in 1854 in Varkensbaai, die klein baaitjie oos van Dias se landingsplek gebou. Dit was egter die Pilkington-kaai, wat in 1862 geopen is, wat die hawebedrywighede vlam laat vat het. Die man aan die stuur was ‘n skeepskaptein en sakeman, kaptein William Harries, wat onder meer die eerste hyskraan op die kaai aangebring het, en ook verskeie sleepbote asook ‘n vloot ligters besit het. Laasgenoemde is gebruik om vrag en passassiers tussen skepe te vervoer wat nie die vlakkerige baai binne kon kom nie.
Hierdie kaai, wat geleë was ongeveer waar die huidige Kaai 1 staan, is in 1913 gesloop. Dit is in 1913/5 deur die sogenaamde Wit Kaai vervang.
Dit is ook in die tweede helfte van die 18de eeu dat talle sakemanne, meestal uit die buiteland, na Mosselbaai begin stroom het om florerende besighede hier te stig en geboue op te rig. Baie van die geboue bestaan vandag nog, en is in gebruik.
Van die bekendste sake-ondernemings in hierdie era was Barry & Nephews; Prince Vintcent & Co; W Harries & Co; P J Wassung & Co; Fleming & Mudie; Mataré & Bruns en Hudson, Vreede & Co. Die meeste van hulle was groothandelaars, uitvoerders en invoerders of agente vir internasionale rederye wie se skepe Mosselbaai gereeld aangedoen het. Baie van die mense se name leef voort in Mosselbaai se straatname.
Banke, kerke en openbare geboue en fasiliteite het ook in die era tot stand gekom. Die eerste gemeenskapskoerant, die Mossel Bay Advertiser, het in 1871 verskyn.
Talle van Mosselbaai se bekendste huidige geboue dateer uit hierdie era.
Die Vintcent-gebou op die hoek van Marsh- en Kerkstraat is in 1829 deur CF Pohl gebou, en toe weer in onderskeidelik 1855 en 1880 vergroot. Die Prince Vintcent & Co-gebou langsaan is in 1901 opgerig,
Die Barry & Nephews-gebou op die hoek van Kerkstraat en Markstraat, wat nou ‘n hotel huisves, is in 1849 opgerig, en in 1863 vergroot. Die gebou op die hoek van Kerk- en Gravestraat is in 1857 gebou en het agtereenvolgens vir Fleming & Mudie asook Mataré & Bruns gehuisves. ‘n Hotel is ook uit die gebou bedryf.
Die wit, dubbelverdiepinggebou in Kerkstraat, wat tans die Mossel Bay Advertiser huisves, is in 1902 vir Standard Bank gebou.
Die eerste munisipale geboue is onderskeidelik in 1858 en 1879 in Markstraat gebou, en het behoue gebly. Hulle word tans deur Mosselbaai Toerisme benut.
Die ou klipgebou op die hoek van Cuffstraat en Blandstraat, waarin daar nou ‘n huishoudelike gasonderneming geleë is, is in 1876 vir die ABC Bank opgerig.
Die dubbelverdiepingklipgebou aan die linkerkant by die ingang na die hawe uit Blandstraat, die Queens Warehouse, is in 1874 gebou. Die kloktoring-gebou oorkant die Queens Warehouse is in 1902 gebou vir die Mosse Bay Boating Company. Dié maatskappy het die hawe van 1896 tot 1916, toe dit deur die owerhede oorgeneem is, bedryf.
Searle’s Manor, die gerestoureerde klipgebou op die hoek van Blandstraat en Meyerstraat, , is in 1902 deur Searle & Company van Groot-Brakrivier gebou op die perseel waar kapt Harries in ‘n stadium ook ‘n saagmeul bedryf het. Dit het as die “Searle and Company Handsome Business Premises” bekend gestaan.
Kerke is ook in hierdie era gestig. Die St Peter’s Anglikaanse Kerk (1879, met aanbouings in 1906) in Marshstraat, die tweede NG Kerk-gebou, die Klipkerk in Kerkstraat (1880), die St Thomas Rooms Katolieke Kerk (1885) en die Methodistekerk (1906) is van die bekendste gesigte in Mosselbaai
Die Harry Giddey-park is in 1887 as die Victoria Park geproklameer ter ere van Koningin Victoria van Engeland. Die naam is in 1969 na die Harry Giddey-park vernoem ter erkenning van mnr Giddey se bydrae tot die ontwikkeling en die instandhouding van die park van die 1930’s af.
Daar is nog talle ander geboue wat tot Mosselbaai se unieke historiese karakter bydra, maar ruimte laat dit ongelukkig nie toe om ook oor hulle te berig nie.
Die hoop word egter uitgespreek dat die stadsvaders en stadsbeplanners van Mosselbaai sal help om hierdie ryke erfenis te beskerm, en in ag te neem wanneer beplanning gedoen word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'