GROOT BRAKRIVER - Vuurwapenlisensiehouers op Groot-Brakrivier sê hoewel hulle telkemale probeer om lisensies te hernu, niemand by die polisiekantoor beskikbaar is om daarmee te help nie.
Die Mossel Bay Advertiser het op 26 Maart berig, 'n professionele jagter, Blackie Swart het reeds op 25 Januarie met al sy nodige dokumentasie by die polisiestasie op Groot-Brakrivier aangeklop sodat hy vuurwapenlisensies kon hernu.
Niemand kon Swart egter help nie en hy is ook weggewys by die Mosselbaai-polisiestasie omdat die polisiebeamptes glo nie 'n ander tak mag help nie.
Hoewel Swart intussen by die Groot-Brakrivier-polisiestasie gehelp is, sê hy daar het egter nog niks verder gebeur nie. "Ek weet regtig nie meer wat om te doen nie. "
Die Advertiser het verskeie klagtes van vuurwapenlisensiehouers die afgelope week ontvang wat sê niemand by die Groot Brak-polisiestasie kan hulle met die hernuwing of nuwe lisensies help nie.
'n Inwoner skryf: "Ek moes my vuurwapenlisensie hernu maar ek kan nie want daar is niemand by die Groot-Brakrivier-polisiestasie wat my kan help nie en hulle het nie personeel hiervoor nie. Die vervaldatum gaan nie verleng word nie, wat moet ek doen?"
Die Advertiser het navrae aan die Suid-Kaap polisiekommunikasiebeampte gerig.
'Ons bring jou die nuutste Groot Brakrivier, Tuinroete nuus'