GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Die Groot-Brakrivier Gemeenskaps-polisiëringsforum (GPF) het onlangs sy Held van die Maand-inisiatief met 'n hoogtepunt afgeskop.
Vyf jong manne, wat hul vrye tyd opgeoffer het om twee lewens te red, is vereer.
Gedurende die afgelope Desember, ná 'n lang dag se diens, het dié vyf lewensredders hul plig bo gemak gekies en 'n noodgeval suksesvol hanteer.
Die vyf redders, Christo Kok, Markus Kok, Zack Blaauw, Gerbrandt van der Merwe en AJ Gericke het by Klein-Brakrivier-strand in 'n gesamentlike poging gehelp om twee mans veilig na die oewer te bring ná hul kano omgeslaan het.
Phil Mattheus, voorsitter van die Da Gamaskop GPF, het sy opregte dank uitgespreek teenoor die vyf dapper manne en hul onbaatsugtige optrede.
Hy het beklemtoon hoe belangrik hul voorbeeld vir die gemeenskap is en het ook hul ouers bedank vir die ondersteuning wat hulle bied sodat hul kinders hierdie belangrike werk kan doen.
Die ouers van die seuns het die geleentheid bygewoon en het uit hul nate gebars van trots.
Die GPF-bestuur het hul innige dank uitgespreek en die seuns met trots gesalueer. "Ons eer julle vir julle moed en onselfsugtige diens. Julle is ware helde."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’