RUBRIEK - Dit is vroegoggend, Sondag 7 Mei. Ek maak die kamervenster oop vir vars lug. Nog voor my brein kan registreer dat dit gereën het, adem ek die vars lug in met 'n smakie van herfsreën.
Alles lyk vanoggend vir my net anders... varser, frisser, skoner en mooier.
Ek het nie eens gehoor dat dit vannag gereën het nie, dit moes so sag gewees het dat ek dit nie kon hoor nie of ek het net lekker diep geslaap.
Selfs my twee hondekinders het vanoggend 'n huppel in hul môregroet, so asof hulle ook die mooiheid van die oggend besef. Hulle kan nie wag om buite te kom en hardloop draaie deur die tuin.
Ek besluit om te gaan stap. Terwyl ek stap lyk alles net vir my mooier, skoner en varser en ek besef hoe bevoorreg ek is en hoe dankbaar ek moet wees vir alles wat ek om my te kan geniet. Die strate is skoon, die lug is vars. Ek is gesond.
Vanoggend sien ek selfs voëltjies raak wat ek nog nooit voorheen op my gereelde staproete opgemerk het nie, seker omdat ek vanoggend meer fokus op die natuurskoon om my as op die teerpad voor my en hoe ver en vinnig ek nog moet stap/draf.
Net verby die Van Riebeeckstadion om die draai in Cecil Shepherdstraat slaan my asem amper weg. Nie van te vinnig stap nie, maar oor dit wat ek voor my sien... Mosselbaai se eie kanola-mooi, 'n see van die pragtigste geel blomme. Ek weet nie watter soort blomme dit is nie maar dit is die mooiste geel. 'n Hele plaat van hulle.
Niemand het dit daar geplant nie. Dit groei wild en is daar vir almal om te geniet en te waardeer.
Ek besef net weer eens ek dien 'n lewende God.
'n God wat vir elke dag se mooi sorg. Al sien ons dit nie altyd raak nie.
Dit is daar om in te asem en te geniet.
Ons moet net om ons kyk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’