MOSSELBAAI NUUS - Gert Wessels het die afgelope naweek tydens die wedvlugte vanaf Marydale (525km) behoorlik amok in die Mosselbaai-posduifklub gemaak toe hy nie net die eerste vier plekke in die jaaroud-afdeling ingepalm het nie, maar ook die eerste twee plekke in die ope-afdeling. Dìt wil beslis gedoen wees.
Die jongduiwe is om 07:50 op Marydale losgelaat en Wessels klok sy eerste twee duiwe net meer as vyf ure later, slegs 'n sekond uitmekaar.
Net meer as drie minute later arriveer sy volgende twee duiwe om vir hom onderskeidelik die derde en vierde plekke in die klub te besorg.
Danie Barnard klok die vyfde en negende duif, met Hannes Grové (Boemerang) in die sesde plek, Erik van Eeden sewende, Wikus en Amanda Pretorius (Anouk) agtste en Jan Marais 10de.
In die ope-afdeling is dit Faunty Gillmer wat ná Wessels klok om die derde plek in te neem en Hartman Hokke onderskeidelik vierde en sewende, gevolg deur Molentze Hokke (vyfde en negende), Rob Edwards (sesde en 10de) en Barnard Lofts (agtste). Gert Wessels klok sy wenduif in hierdie afdeling in net onder vyf ure.
Juniors
Marinus van der Mescht en Tashinga Kadye se duiwe behaal vir hul onderskeie eienaars weer eens die eerste plekke in die junior afdeling van die Mosselbaai-posduifklub. Marinus klok die eerste, derde en vierde plekke in die jaaroud-afdeling met Tashinga tweede en Jula Meyer vyfde.
Tashinga klok ook tweede en vyfde in die ope-afdeling met Logan Boshoff derde en vyfde.
Sprint-wedvlug
In die klub se sprint-wedvlug vanaf Victoria-Wes was dit Tertius Capes van Capes Loft was eerste klok met Gillmer tweede, vierde, negende en 10de, Mollentze Hokke derde, Corrie Naude vyfde en sesde en Tol Nel sewende an agtste.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'