MOSSELBAAI NUUS - Op versoek van die landbougemeenskap in die groter Mosselbaai is vandeesweek weer 'n grootmaatwaterskenking aan twee plase gedoen waar krane heeltemal leeggeloop het.
"Mosselbaai is bevoorreg om honderde vakansiegangers in ons dorp te hê. As elke gesin wat hier ontspan dit wil oorweeg om 'n paar geseëlde vyf-literkanne vol drinkwater vir Kersfees vir die landbouers te gee, kan daar heelwat gedoen word om die onmiddellike behoefte op plase in die omgewing te verlig," vra die organiseerders van die waterinsamelingspoging op die dorp, onder meer die Mosselbaai-gemeenskapspolisieforum (GPF) en Mosselbaai-munisipaliteit se speaker en uitvoerende onderburgemeester.
Dit was raadshere Petru Terblanche (speaker) en Dirk Kotzé wat die Du Toit-egpaar van Danabaai se inisiatief om geld in te samel deur pannekoek te bak en die wins vir water te skenk, ondersteun en verder geneem het.
Mosselbaai beskik oor die seewaterontsoutingsaanleg en kan daarom watersekerheid aan inwoners verseker, hoewel die water wat deur ontsouting gelewer word, duur is.
Dit is egter op die plase in die omgewing wat nie net die vee nie, maar ook die landbougemeenskappe, werksmense ingesluit, baie swaar kry omdat drinkwater net nie meer beskikbaar is nie.
Met die hulp van borge word drinkwater na landbougemeenskappe versprei. Enige donasies kan afgegee word by die brandweerstasie op Groot-Brakrivier of by die brandweerstasie op die hoek van Louis Fourieweg en Schoemanstraat in Mosselbaai.
Borge neem deurtentyd versendings van drinkwater na plase in die groter Mosselbaai waar die nood vir drinkwater die grootste is. Enige donasies sal verwelkom word.
Damme op die plase in die omgewing het leeggeloop, krane is leeg en landbougemeenskappe gaan gebuk onder een van die knellendste droogtes.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'