MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-munisipaliteit sê hulle sal betyds kennis gee indien verminderde kragtoevoer in dele van die dorp toegepas word wat nie voorheen deur beurtkrag geraak is nie.
Die munisipaliteit en Eskom het in Januarie vergader nadat Eskom versoek het dat verminderde kragtoevoer ook in gebiede wat beurtkrag tot op hede vrygespring het, toegepas moet word.
Gebiede wat voorheen van beurtkrag uitgesluit is, sal heel waarskynlik in die nabye toekoms deur beurtkrag geraak word.
Die presiese areas sal volgens die munisipaliteit so gou moontlik bekend gemaak word.
Dié gebiede word deur die Mosselbaai-Suid substasie bedien en sluit in die Mosselbaai sakekern, Da Nova, D’Almeida, die Mosselbaai gholfbaan en sekere dele in Heiderand.
Seemeeupark wat voorheen nie deur beurtkrag geraak is nie, het sedertdien geskeduleerde kragonderbrekings ondervind.
Volgens die munisipaliteit sal meer woongebiede in alle waarskynlikheid mettertyd volg.
Mosselbaai se burgemeester, Dirk Kotzé en lede van die burgemeesterskomitee het onlangs munisipale substasies en elektriese infrastrukture besoek om hulself te vergewis van die voortdurende opgraderings wat aan die munisipale telemetriestelsel gedoen word.
Opgradering van die munisipale telemetriestelsel sal die munisipaliteit in staat stel om Eskom se verminderde kragtoevoer-versoek te akkommodeer.
Volgens die munisipaliteit sal hulle weens hierdie voortdurende opgraderings binnekort oorskakeling by sommige van die substasies onder hul bestuur kan doen.
Verwante artikels:
- Uitkoms van kragonderhandelinge nog duister
- Load limiting affecting parts of Mossel Bay
- Load shedding to take place in areas previously not affected
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'