MOSSELBAAI NUUS - Daar het die afgelope week groot onsekerheid geheers oor of sekere dele van Mosselbaai wat nog nie voorheen deur beurtkrag geraak is nie, wel eersdaags aan verminderde kragtoevoer blootgestel sal word.
Dit volg op vergaderings tussen Eskom en die Mosselbaai-munisipaliteit nadat Eskom Mosselbaai-munisipaliteit versoek het om in sekere gebiede verminderde kragtoevoer toe te pas.
Dit sluit in die sakekern van Mosselbaai, D'Almeida, Da Nova, die Mosselbaai-gholflandgoed en sekere dele van Heiderand.
Volgens die munisipaliteit is daar tot nou toe sekere sleutelinstallasies soos onder meer die PetroSA-pyplyn waarmee diesel vanuit die Voorbaai-tenkplaas na die Gourikwa-kragstasie gelei word wat van beurtkrag uitgesluit is en dan saam daarmee die aanliggende woongebiede. Die diesel word by Gourikwa-kragstasie gebruik om die nasionale kragnetwerk van elektrisiteit te voorsien en het grootliks bygedra tot laer beurtkragfases.
Munisipale-woordvoerder Cornelle Carstens sê: "Die munisipaliteit pas nie beurtkrag toe nie, Eskom bepaal en pas beurtkrag toe. Daar word egter deurentyd opgradering, instandhouding en ontwikkeling van die elektrisiteitsnetwerk en die munisipale telemetrie-stelsel gedoen om ‘n beperkte aantal punte te kan skakel." Teen die ter perse gaan, was onderhandelinge tussen die partye nog nie afgehandel nie.
Billike geleentheid
Carstens sê die munisipaliteit wil vir veral besighede wat nog nooit aan beurtkrag onderwerp was nie 'n billike geleentheid skep om alternatiewe kragbronne soos kragopwekkers te kan bekom. "Sommige van die besighede, onder meer op die hawe, hanteer duisende tonnemaat vars vis en kan nie die vis aan land bring as daar nie behoorlike stoorgeriewe met volhoubare ysfasiliteite beskikbaar is nie."
Sy sê skepe wat reeds met vangste op die oop see is, se produk moet afgelaai word. "Baie van hierdie vis is selfs vir uitvoere bestem en moet vars verhandel. In baie gevalle is die nodige kragopwekkers - van die omvang wat nodig is vir onder meer drie-fasekrag - nie geredelik in die dorp of selfs in die provinsie beskikbaar nie en dit sal waarskynlik ingevoer moet word. Indien die beurtkrag sonder meer op 16 Januarie toegepas moes word, kon dit ongelukkig groot werksverliese meegebring het wanneer aanlegte nie met hul werksaamhede kon voortgaan nie."
Kragopwekker tekort
Besigheidseienaars en inwoners wat wel deur beurtkrag in Mosselbaai geraak word, het die afgelope week verskeie kommentare op sosiale media oor die verloop van sake gemaak. Sommige inwoners meen dit is onregverdig dat sekere besighede onder beurtkrag moet ly en ander nie. Carstens sê: "Die munisipaliteit is terdeë bewus daarvan dat plaaslike besighede nie net tot die sentrale besigheidsdistrik beperk is nie en het empatie met die gevolge van beurtkrag op al ons besighede, inwoners en die plaaslike ekonomie."
"Tog moet die omvang van sommige van die besighede in die sentrale sakekern in ag geneem word. Van Mosselbaai se grootste werkverskaffers bedryf hul besighede vanuit die hawe waar daagliks met massiewe tonnemaat vars produkte gehandel moet word." Sy sê inwoners moet besef dat beurtkrag nie die gevolg van 'n munisipale besluit is nie, maar nasionaal deur Eskom op inwoners afgedwing word.
"Daar is nie deur besighede wat voortaan geraak gaan word, noodwendig vir hierdie kragopwekkers begroot nie en baie besighede in die sentrale sakekern sal inderhaas fondse moet bewillig daarvoor, indien moontlik, of sonder meer die risiko loop om hul besighede te verloor juis omdat hulle nie vir beurtkrag kon voorberei nie."
Volgens die munisipaliteit gaan die onderhandelinge met Eskom dus daaroor om 'n billike geleentheid te skep vir hierdie en ander besighede in die sentrale sakekern om vir beurtkrag voorsiening te kan maak.
Verdere onderhandeling
Waarnemende burgemeester, Cliffie Bayman het die afgelope week in 'n brief gesê hulle het opdrag gegee dat verder met Eskom onderhandel moet word om die gevolge van beurtkrag op die munisipaliteit se groot werkverskaffers, besighede en veral gesondheidsektor te verlig. "Sodra dit vir ons moontlik word om op ‘n groter skaal dié druk te verlig om ‘n groter impak te bewerkstellig, sal ons dit doen."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'