MOSSELBAAI NUUS - Maandagoggend, 23 Julie omstreeks 04:30 het die eerste berigte begin instroom van probleme op Louis Fourieweg tussen die Danabaai-afrit en die Casinoweg-verkeerskruising.
Vinnig is die gerugte van oproerigheid bevestig en só het 'n herhaling van omstandighede van 29 Junie, toe gewelddadige opstande vroeër in die Aslaparkarea voorgekom het, opgevlam.
Vinnig was Louis Fourieweg in die Aslapark-omgewing vir verkeer gesluit en vir twee dae het sporadiese klipgooiery en vandalisme gesorg dat die pad afgesper bly.
Weer was inwoners van Danabaai afgesny van die res van die area. Die tydelike nuwe nooddeurgang ten spyt, is inwoners in die buurt vasgekeer. Mense is verhoed om by hul werksplekke te kom, werkers kon nie by hul werksplekke in Danabaai uitkom nie, kinders kon nie by skole kom nie, heelparty mense moes dringend ander planne maak met doktersafsprake en ander reëlings.
Nooddienspersoneel wat in Danabaai woon en nagskof gewerk het, moes noodgedwonge die kans vat om ondanks die gevaar via Louis Fourieweg tot in Danabaai te vorder. Sommige se voertuie is in die proses deur klipgooiery beskadig.
Vroegoggend het rookwolke oor Aslapark getuig van die talle brande wat binne die woonbuurt gewoed het.
Aflewerings kon nie aan plaaslike besighede gedoen word nie, kontrakteurs kon nie hul verpligtinge in die buurt nakom nie - tot frustrasie van die inwoners en besighede in die area. Inwoners en besighede het finansieël skade gely.
Tydelike nooduitgang
Tydelike nooduitgang was vir talle Danabaaiers, veral diegene wat dit met kleiner voertuie aangepak het, 'n verdere frustrasie en berigte is ontvang van gevalle waar voertuie in die dik sand vasgeval het. Gou het gemoedere, veral op sosiale media, opgevlam.
Op talle forums en platforms is frustrasie uitgespreek met wat hulle beskou as voetesleep met die alternatiewe toegangsroete. Hoewel die nooduitgang etlike jare reeds op die wyk se geïntegreerde ontwikkelingsplan voorkom, is dit telkens na die latere jare uitgeskuif met die verduideliking dat daar nie genoeg fondse vir die bou van die pad is nie.
Binne in Aslapark het klompies jeugdiges 'n skrikbewind teenoor inwoners gevoer.
Die jongste oproerigheid was die derde voorval in die jongste verlede waartydens Danabaaiers van die buitewêreld afgesny is. Beide buurtwaglede en wetstoepassers was deurentyd aan diens.
Die hoof van die provinsiale verkeersdienste is by herhaling douvoordag opgemerk waar sy persoonlik die stiuasie gemonitor het en betrokke was met leiding. Mosselbaai se hoof van die brand- en rampbestuursdienste, Joseph Johnson het as koördineerder saam met die polisie die gesamentlike operasionele sentrum (GOS) beheer. Die gemeenskapspolisiëringsforum het verantwoordelikheid geneem om bevestigde inligting oor die situasie op grondvlak aan buurtwagte en ander belanghebbendes deur te gee.
Tog was inligting oor die toeganklikheid van die paaie soms verwarrend omdat die omstandighede, veral Maandag deurentyd verander het.
Onrus kring verder uit
Die onrus het verder uitgekring met die N2 wat aanvanklik gesluit was en belhamels wat selfs probeer het om vragmotors voor te keer en uit te brand. Die ontplooiing van die SA Polisie se openbare orde polisiëringseenheid het 'n reusetaak verrig om inwoners se veiligheid te verseker en orde binne Aslapark en KwaNonqaba te herstel en te handhaaf. By gevalle was die polisie genoodsaak om rubberkoeëls en traangas te gebruik om belhamels uiteen te jaag.
Wetstoepassers kon later daarin slaag om via die N2 vir Danabaaiers toegang tot die res van die dorp te bewerkstellig, hoewel dit tot ellelange verkeersopeenhopings op beide die N2, in beide rigtings, en op Louis Fourieweg in die Voorbaai- en Hartenbos-omgewings aanleiding gegee het. Munisipale verkeersbeamptes is herhaaldelik geloof vir die wyse waarop hulle die verkeer gereguleer het.
Buurtwaglede en die gemeenskap het die onderskeie wetstoepassers by Crotzstraat met heerlike verversings bederf.
Die situasie in Mosselbaai is verder bemoeilik toe onluste ook in Brandwag, Groot-Brakrivier en - hoewel kortstondig - ook in die Powertown-omgewing voorgekom het.
Op Brandwag het oproeriges die R328 tussen Mosselbaai en Oudtshoorn versper.
Na die bemiddelling van die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, die lede van sy burgemeesterskomitee, die munisipale bestuurder en verskeie senior bestuurslede is orde Dinsdagaand herstel. 'n Vergadering sal op 7 Augustus met die leiersgroep van die protesteerders gehou word waartydens die munisipaliteit terugvoer op hul lys van klagtes sal gee.
Lees vorige artikels:
- N2 open in both directions
- Update: Councillors to meet with protest leaders
- N2 weer gesluit
- Update: Protest in Asla Park
- Update: Situation volatile in Asla Park
- Update on unrest
- Alle paaie in Mosselbaai weer oop
- Louis Fourieweg gesluit
- Protesaksie: Mosselbaai-paaie weer oop
- Protest action flares up
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'