KLEIN-BRAKRIVIER NUUS - Geliefde moeder en eggenoot, Riëtte Moll, is oorlede na sy die afgelope naweek in 'n fietsryongeluk betrokke was.
In 'n boodskap deur haar gesin uitgestuur sê hulle sy het Saterdagoggend, 19 Oktober, om ongeveer 10:00 gaan oefen "soos altyd, en toe hemel toe gegaan".
Hulle hou vandag, 24 Oktober, om 16:00 'n viering van haar lewe by Doxa Deo Mosselbaai en sal Sondag, 27 Oktober, om 10:00 dieselfde doen op Heidelberg op die plaas, Lezar Opstal.
Moll het Saterdag op die R102 in die rigting van Klein Brak naby Reebok Village gery toe 'n verbygaande motor se kantspieëltjie haar na bewering getref het.
Volgens die polisie het sy daarna beheer oor haar fiets verloor en geval. Die presies omstandighede van die ongeluk is nog onbekend.
Moll is in 'n ernstige toestand na die hospitaal vervoer en is in die week dood verklaar.
Daar was aanvanklik 'n klag van roekelose en/of nalatige bestuurder by die polisie geopen, maar ná haar afsterwe sal dit verander word na 'n klag van strafbare manslag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’