TUINROETE NUUS - Die families van Samuel Williams (43), Jerome Minnies (31) en Rezail Slotto (18) het die ure op Saterdagaand, 27 April afgetel, wetend dat hulle geliefdes se liggame steeds in die bakkie se wrak waarin hulle dieselfde middag duskant Groot-Brakrivier verongeluk het, vasgekeer is.
"Dit was 'n verskriklike gedagte," sê Jerome se meisie, Zeldi Scheepers. Haar suster, Elizabeth Scheepers was in 'n verhouding met Samuel.
Hulle ma, tannie Eva Scheepers van Friemersheim se 60ste verjaarsdagpartytjie sou op dieselfde dag plaasvind.
"Daar was groot opwinding en ons sou die gaste met 'n bussie na die AGS-kerksaal by Kleinplaas aanry. Dit is ongeveer 10km vanaf Friemersheim. Die partytjie moes om 16:00 begin. My ma was reeds by die saal toe sy die tyding kry. Jerome-hulle was ook op pad na die partytjie," sê Zeldi. Samuel het op Friemersheim gebly en op 'n plaas gewerk, Jerome het by sy ma, wat hom alleen in haar huis op Wolwedans grootgemaak het, Margaret Minnies gewoon, en by 'n besigheid wat kaste maak in George gewerk terwyl Rezail by sy ouers op Blanco gewoon het. Rezail het nie meer skoolgegaan nie.
Niemand weet wat presies gebeur het nie, maar die bakkie, wat Jerome bestuur het, het in 'n kloof langs die pad afgestort en tussen bosse, bykans 100m verder tot stilstand gekom.
Spore van motorbande
Die eienaar van die bakkie en 'n vriend van die oorledenes, Christy Qhwelo (40) het vir tannie Eva op Friemersheim opgelaai om haar na haar partytjie te neem toe hy op pad na die onthaalsaal die spore van motorbande oor die pad sien lê. Hy het dadelik besef daar is fout en het eers vir tannie Eva by die saal afgelaai voordat hy na die toneel teruggekeer het. "Jerome het vroeër die dag gevra om my bakkie te leen vir werk wat hy glo moes doen. Hulle was onderweg na die partytjie."
Christy het 'n ent afgestap en op bokse en sy Nissan-bakkie se nommerplaat afgekom. Hy het die Groot-Brakrivier-polisie ontbied, waarna polisiebeamptes op die bakkie se wrak afgekom het. Die wrak was egter baie moeilik bereikbaar.
Paramedici is na die toneel ontbied en het die insittendes op die toneel dood verklaar.
Hartseer tyding
Bykans 60 mense sou die partytjie bywoon, maar nadat die hartseer tyding aan die familie oorgedra is, is die gaste huis toe. Tannie Eva het haar kleinseun (Rezail) verloor en beide haar dogters hul lewensmaats. Rezail se ouers was ook by die partytjie en is sonder Rezail daar weg. Intussen het die polisie en nooddienspersoneel op Groot-Brakrivier besluit om die hulp van 'n AMS-helikopter in te roep om die wrak en die liggame van die oorledenes te verwyder.
Weens digte mis en die beboste terrein kon die operasie egter eers die volgende dag, op Sondag, 28 April uitgevoer word. Teen Sondagmiddag is die liggame suksesvol uit die kloof verwyder.
Die bakkie gaan na wat verneem word nie verwyder word nie en Christy sê hy en 'n vriend het sedertdien die toneel weer besoek om parte van die bakkie te verwyder.
"Hulle was almal vriendelike mans en het altyd almal gehelp waar hulle kon," sê Zeldi. Jerome se ma, Margaret sê Jerome was haar "lieflingseun". "Hy het op die ouderdom van 15 reeds begin werk omdat hier nie 'n man in die huis was nie en hy vir ons voorsien het. Sy laaste woorde voordat hy Saterdag hier weg is, was: 'Ek's lief vir ma'."
Samuel se begrafnis vind vandag, Vrydag 3 Mei, om 09:00 vanuit die AGS-kerk op Friemersheim plaas. Beide Jerome en Rezail se begrafnisse vind môre, Saterdag 4 Mei, plaas. Dié van Jerome om 09:00 vanuit die Congregational Kerk op Groot-Brakrivier en dié van Rezail om 10:00 vanuit die Nuwe Apostoliese Kerk in George.
Samuel laat 'n dogter en seun agter. Rezail en Jerome het nie kinders gehad nie."Ons families se harte is stukkend," sê tannie Eva.
Lees vorige artikels hier:
- Partytjie afgestel na drie verongeluk
- Oorledenes se name bekend
- 3 liggame tydens intensiewe operasie uit wrak verwyder
- Bakkie stort by krans af, 3 oorledenes steeds vasgekeer
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'